Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Foekoesjima: Oseaan moet dalk tonne radioaktiewe water sluk

Tonne radioaktiewe water van die Foekoesjima-kernramp moet in die see gestort word, het die Japanse regering gesê.

Die water moet direk in die Stille Oseaan gestort word om dit weg te werk en te verdun, het Japan se minister van omgewingsake, Josjiaki Harada, Dinsdag op ’n nuuskonferensie gesê.

Sedert ’n aardbewing en gevolglike tsoenami in 2011 die Foekoesjima Daïtsji-kernaanleg getref het, was die operateur, Tepco, onder die soeklig oor hoe die nagevolge hanteer is. Dié maatskappy het sedertdien meer as 1 miljoen ton water in tenke versamel wat radioaktief is.

Dié water moes deur verkoelingspype vloei om te keer dat die radioaktiewe kern verder smelt en dit nog radioaktiewe stof die lug in versprei.

Maar die plek om dié besoedelde water te stoor, raak nou min en dit sal teen 2022 nie meer geberg kan word nie, het Tepco gesê.

“Die enigste opsie is om dit in die see te stort. Die regering sal dit moet bespreek, maar dit is my mening,” het Harada gesê.

Kernaanlegte wat in kusstreke geleë is laat gereeld besmette water met tritium, ’n waterstof-isotoop, die see in, wat as betreklik skadeloos beskou word. Die water in die Foekoesjima-tenke het egter ander stowwe buiten tritium.

In Maart vanjaar het wetenskaplikes sesium-137 gevind in die seewater in die Beringstraat naby Alaska. Die vlakke van dié neweproduk was egter te laag om ’n risiko vir mense langs die kus in te hou.

So lyk die tenke waarin radioaktiewe water sedert die ramp gestoor word. Foto: Reuters

Intussen het die land se kernreguleerder ’n nuwe ondersoek na Tepco aangekondig. Die reguleerder wil uitvind waar die kernafval van die aanleg uitlek sowel as die doeltreffendheid van die verkoelingstelsel.

Verskeie ondersoeke wat sedert die kernramp in Tsjernobil in 1986 van stapel gestuur is, het daarop gedui dat Foekoesjima uitsluitlik ’n mensgemaakte ramp was en dat dit voorsien kon word as gevolg van die bepaalde optrede.

Volgens die Wêreldkernvereniging het die elektrisiteit op die dag van die aardbewing uitgeskop – iets wat om veiligheidsredes gebeur. In daardie geval skop die dieselkragopwekkers in die kelder in om steeds water te pomp na die reaktor om dit die heeltyd te verkoel.

Hoewel Foekoesjima weerstandig teen seismiese aktiwiteite is, is daar blykbaar nie rekenskap gehou met moontlike tsoenami’s nie. Seewater het die aanleg gevul en operateurs kon nie die aanleg betyds bereik om die nodige herstelwerk te doen nie. – Saamgestel uit Reuters

Meer oor:  Foekoesjima  |  Kernkrag  |  Kernaanleg  |  Kernramp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.