Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
FOTO’s: Hongersnood dreig wéér in Ethiopië

Meer as 350 000 mense in Tigray in Ethiopië leef in hongersnood-omstandighede, terwyl nóg miljoene deur soortgelyke omstandighede bedreig word.

Dit is die bevinding van die Verenigde Nasies (VN) en hulporganisasies, wat ’n analise gedoen het van die geïntegreerde voedselsekerheid in die land volgens die fase-klassifikasiestelsel (IPC).

“Die hoeveelheid mense in hongersnood-omstandighede is hoër as op enige ander plek in die wêreld op enige gegewe oomblik sedert ’n kwart miljoen Somaliërs in 2011 dood is,” het Mark Lowcock, hoof van die VN se noodhulpprogramme, gesê toe die analise Donderdag bekend gemaak is.

Die Ethiopiese regering betwis dié analise.

Die meerderheid van die 5,5 miljoen mense in die konflik-geteisterde Tigray benodig voedselhulp en die situasie sal na verwagting teen September vererger, al word meer hulp verleen. Dele in die weste van Tigray is nie by die analise ingesluit nie, daarom is die werklike prentjie dalk erger.

Só word hongersnood verklaar

Die IPC-skaal, wat die VN se agentskappe, plaaslike organisasies en hulpgroepe gebruik om voedselsekerheid te bepaal, het vyf fases. Op fase 1 kan 80% van mense in hul basiese voedselbehoefte voorsien, terwyl fase 5 dui op ’n humanitêre katastrofe/hongersnood.

Volgens die verslag is 350 000 mense in Tigray in ’n fase 5-katastrofe. Dit beteken huishoudings ondervind reeds hongersnood-omstandighede, maar die kerf vir ’n hongersnood is nog nie bereik nie.

Om ’n hongersnood te verklaar, moet minstens 20% van die bevolking ’n uiterste tekort aan voedsel hê, een uit drie kinders moet akuut ondervoed wees en twee uit elke 10 000 mense moet daagliks weens hongersnood sterf of van ondervoeding en siekte doodgaan.

Hongersnood is twee keer in die afgelope dekade verklaar: in 2011 in Somalië en in 2017 in dele van Suid-Soedan.

Konflik in die streek

Gevegte het in November uitgebreek tussen die Ethiopiese weermag en die streek se voormalige regerende party, die Tigray People’s Liberation Front (TPLF). Soldate van die buurland Eritrea veg saam met die Ethiopiese regering.

Die geweld het reeds duisende burgerlikes geëis en meer as 2 miljoen mense is ontwortel.

“Die ernstige voedselkrisis is as gevolg van die konflik, die ontworteling van mense, inperkings op beweging, beperkte humanitêre hulp, ’n verlies aan oeste en lewensbestaanbates, en disfunksionele markte,” aldus die analise.

Plaaslike regering stry

Die Ethiopiese regering betwis die IPC-analise.

’n Woordvoerder van die minister van buitelandse sake het Donderdag gesê die voedseltekorte is nie ernstig nie, met die regering wat koshulp verleen en die Tigray-boere bystaan.

Mitiku Kassa, hoof van Ethiopië se nasionale ramprisikobeheerkommissie, het gesê: “Ons het nie enige tekort aan kos nie.”

David Beasley, uitvoerende direkteur van die Wêreldvoedselprogram, skets egter ’n ander prentjie. Volgens hom is daar die gevaar dat miljoene mense van honger kan doodgaan. Daarom moet daar ’n skietstilstand verklaar word, daar moet ongehinderde toegang wees om voedselhulp te verleen en nog geld is nodig om die hulp uit te brei. – Reuters

Adan Muez (14) lê in die Adigrat-hospitaal in Adigrat in Tigray, Ethiopië. Die foto is in Maart geneem. Foto: Reuters
’n Vrou met ’n baba staan in ’n tou om kos te ontvang wat by ’n laerskool in Shire in Tigray, Ethiopië, uitgedeel word. Die foto is in Maart 2021 geneem. Foto: Reuters
Die mense wag vir kos by ’n laerskool in Shire in Tigray, Ethiopië. Die foto is in Maart geneem. Foto: Reuters
Somaliese ouers betoog Donderdag in Mogadisjoe in Somalië omdat hulle seuns by die konflik in Tigray in Ethiopië ingespan word. Foto: Reuters
Nóg vroue betoog in die Somaliese hoofstad Mogadisjoe en kla hulle seuns word ‘gebruik’ in die konflik in Tigray in Ethiopië. Foto: Reuters
Twee ongelukkig ma’s by die betoging in Mogadisjoe in Somalië. Foto: Reuters
Mitiku Kassa, hoof van Ethiopië se nasionale ramprisikobeheerkommissie. Foto: Reuters

Meer oor:  Ethiopië  |  Hongersnood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.