Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Foto’s: Slagoffers van WO2 in Nederland herdenk
Die Nederlandse koning Willem-Alexander en koningin Máxima stap van die Nieuwe Kerk na die Nasionale Monument op die Damplein in Amsterdam ter herdenking van die Tweede Wêreldoorlog. Foto: Anika Marais
Koning Willem-Alexander en koningin Máxima plaas ’n blommekrans namens die hele Nederland aan die voet van die Nasionale Monument om alle slagoffers van die Tweede Wêreldoorlog te herdenk. Foto: Anika Marais
’n Vrou wat die Tweede Wêreldoorlog oorlog oorleef het, huil terwyl sy na die Nasionale Monument stap. Enkele oorlewendes en hul familielede is genooi om ook blommekranse voor die monument neer te sit. Foto: Anika Marais
’n Oudsoldaat kyk na die duisende mense wat op die Damplein byeengekom het. Oudsoldate het ’n erewag vir die oorlewendes van die oorlog gevorm. Foto: Anika Marais
’n Veteraansoldaat maak sy oë toe en salueer tydens die twee minute stilte wat Woensdagaand om 20:00 in Nederland geheers het. Foto: Anika Marais
’n Hollander het spesiaal oranje aangetrek vir die herdenking op die Damplein. Sommige mense het vir meer as ses uur op die plein gewag om die geleentheid mee te maak. Foto: Anika Marais

In Nederland word die slagoffers van die Tweede Wêreldoorlog jaarliks op die aand van 4 Mei gedenk. Anika Marais was Woensdagaand om 20:00 op die Damplein in Amsterdam toe die hele Nederland vir twee minute stil geword het.

Duiwe kon nie Woensdag sitplek op hul geliefde Damplein kry nie.

Ongeduldig het hulle die hele middag in formasie van die een kant van die plein na die ander gevlieg – op en af van die kloktoring van die paleis na die groot wit Nasionale Monument.

En toe die klok om 20:00 Woensdagaand agt keer lui, was dit vir twee minute nét die duiwe se vlerke wat op die Damplein gehoor kon word. Alles was stil in Nederland – die trems het stilgestaan, busse het van die pad afgetrek en geen fietsklokkies het gelui nie.

My oupa het ’n goue ster gedra en skielik kon hy nie meer saam met sy moeder na die park gaan nie.

Hier voel die Twee Wêreldoorlog nie lank gelede nie. Ja, die wapens is 71 jaar gelede neergelê, maar kleinkinders wroeg vandag met die letsels van hul grootouers.

“My oupa het ’n goue ster gedra en skielik kon hy nie meer saam met sy moeder na die park gaan nie,” het die jong Hollandse digter, Sterre Wolthers (16), voor duisende mense op die Damplein voorgelees.

“My ouma is net ná die oorlog gebore op ’n plaas. Presies ’n jaar na die bevryding. Op haar 12de verjaardag hoor sy hoe haar ouers in die oorlog Jode en vlieëniers in hul skuur weggesteek het. En in hierdie twee minute vra ek myself af: Wat sou gebeur het as die Duitsers in die nag by die plaas aangekom het? Sou ek dan vandag hier gewees het?”

Sy vou die bladsy met haar gedig in twee en knik haar kop in die rigting van haar koning en koningin wat in swart voor die bevrydingsbeeld van marmer staan. Willem-Alexander en sy vrou, Máxima, kyk hoe blommekranse vir die slagoffers van die Tweede Wêreldoorlog neergelê word. Hulle het self ’n groot wit blommekrans namens die hele Nederland voor die monument op ’n esel staangemaak, terwyl enkele oorlewendes van die oorlog in rolstoele agter hulle gesit het.

Hollanders het reeds vroegmiddag op die Dam begin saamdrom om hul eer vir slagoffers te betoon. ’n 70-jarige paartjie van Zwolle (110 km van Amsterdam) het ses uur lank op die plein gestaan en beurte gemaak om op ’n klein bedkassie van hout te sit – alles om seker te maak hulle staan styf teen die ysterhekke waar die oorlewendes en die koningspaar net voor 20:00 van die Nieuwe Kerk na die Nasionale Monument gestap het.

“Ons kyk dit elke jaar op televisie,” het hulle gesê.

“Maar vanjaar was dit tyd om self hier te wees.”

Meer oor:  Slagoffers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.