Die Franse president, Emmanuel Macron, is “baie geskok” oor bewerings dat die polisie ’n swart musiekvervaardiger in Parys aangerand en beledig het.
Die Franse owerhede ondersoek die aantygings deur die musiekvervaardiger, wat sy identiteit as Michel gegee het, nadat beeldmateriaal van veiligheidskameras waarop die voorval vasgevang is, versprei is.
Kringtelevisiekameras het die aanranding by die ingang van ’n gebou opgeneem. Daar is ook selfoon-beeldmateriaal van die voorval wat die hoofnuus op verskeie Franse televisiekanale gehaal het.
Die gemoedere onder swart en etniese minderheidsgroepe in Parys loop steeds hoog ná die dood van die Amerikaner George Floyd in Minneapolis in Mei vanjaar.
Floyd se dood het in Parys weerklank gevind, veral in agtergeblewe voorstede van die stad, waar die polisie gereeld met jeugdiges van etniese minderheidsgroepe bots.
Die polisie in Parys het vandeesweek reeds onder hewige kritiek deurgeloop nadat foto’s en video’s op sosiale media versprei is oor hoe hulle betogers slaan terwyl hulle van ’n onwettige kampeerterrein vir migrante in die stad verwyder word.
Volgens Michel het polisiebeamptes hom op 21 November by sy ateljee in Parys aangerand.
Hy sê hy het sonder ’n masker in die straat geloop toe hy ’n polisiemotor sien. Hy is na sy ateljee in die omgewing om te verhoed dat hy ’n boete kry. Die polisie het hom egter agtervolg en hom glo aangerand en rassisties teenoor hom opgetree.
Die voorval het plaasgevind te midde van omstredenheid oor ’n konsepwet wat joernaliste se vermoë beperk om beeldmateriaal van Franse polisiebeamptes in die uitvoering van hul pligte te wys. Jean Castex, die Franse eerste minister, het in reaksie op die betogings en klagtes teen die inperking van vrye uitdrukking ’n onafhanklike kommissie op die been gebring wat aan ’n nuwe weergawe van die wetgewing werk. – Reuters
Reuters: https://www.reuters.com/article/us-france-security/french-president-very-shocked-by-alleged-police-beating-of-black-man-bfm-tv-idUSKBN2870UQ