Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
G7: Entstof-hulp beloof, maar klimaat afgeskeep

Die leiers van die G7 het op die pas afgelope beraad in Cornwall, Brittanje, hulself daartoe verbind om 1 miljard Covid-19-entstowwe in die komende jaar te skenk om ’n einde te bring aan die wêreldwye koronaviruspandemie.

In die finale memorandum wat Bloomberg eerste bekom het, sê die leiers hulle is daartoe verbind om nuwe stukrag te verleen aan samewerking tussen die wêreld se magtigste ekonomieë.

Daar was agter toe deure robuuste debat tussen die wêreldleiers oor die bewoording in die memorandum rakende China. Daarin is menseregtekwessies in Hongkong en Xinjiang uitgelig, maar daar is nie melding gemaak van China se gebruik van dwangarbeid nie.

Klimaataktiviste met maskers van die G7-leiers op, het Sondag in Cornwall, Brittanje, teen die G7-beraad betoog. Foto: Reuters

Die leiers het saamgestem op die bewoording waarmee Rusland vir sy “ontwrigtende gedrag” veroordeel is. Daar is ’n beroep op Rusland gedoen om kuberkrakers vas te vat wat uit Rusland aanvalle voer met indringerware wat data enkripteer.

Pres. Joe Biden van Amerika vergader Woensdag met pres. Wladimir Poetin van Rusland in Genève, Switserland.

Die leiers het op die afgelope beraad oor heelwat saamgestem, maar was op twee punte – om meer geld vir entstowwe te kry en optrede teen klimaatsverandering – nie baie suksesvol nie.

Pres. Joe Biden van Amerika raak met sy hand aan sy voorkop op die laaste nuuskonferensie van die G7-beraad in Cornwall, Brittanje. Foto: Reuters

Koronavirus

Die leiers het onderneem om vir hulself ’n mikpunt te stel om teen einde aanstaande jaar ’n einde te maak aan die pandemie. Dit sal beteken dat minstens 60% van die bevolking wêreldwyd ingeënt sal moet word. In vorige dokumente is melding gemaak van ’n 80%-immuniseringskoers.

Die Britse regering se onderneming om ’n bykomende 1 miljard entstof-dosisse aan die wêreld se armste lande te verskaf, lui in die finale memorandum dat dit die uitvoer van en dosisse wat reeds verskaf is, onder meer deur die Covax-entstofinisiatief, sal insluit.

Daarvolgens het die G7 sedert die ontstaan van die pandemie reeds 2 miljard dosisse entstof verskaf. Dié syfer sluit die 700 miljoen dosisse entstof in wat reeds vanjaar na armer lande uitgevoer is of nog uitgevoer sal word. Buiten dié entstowwe onderneem die G7 om nog 870 miljoen dosisse entstof met die wêreld te deel.

China

Die G7 het ook ’n beroep gedoen dat ’n deursigtige en wetenskaplike ondersoek, gelei deur kundiges en saamgeroep deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), na die ontstaan van die virus in China gedoen word.

Volgens ’n amptenaar wat by die samesprekings die afgelope paar dae betrokke was, is daar ooreenstemming oor ’n drieledige benadering teen China: samewerking oor kwessies soos klimaatsverandering, samewerking in mededinging op handelsfront en meningsverskille oor menseregte.

Klimaatsverandering

Die leiers het saamgestem om die oorgang na die verkope van motors wat van diesel en petrol gebruik maak na motors met geen uitlaatgasse nie te versnel, maar geen tydsduur is daaraan gekoppel nie.

Hulle het wel onderneem om $100 miljard ’n jaar by te dra om die wêreld se armste lande te help om hul koolstofvoetspoor te verminder, maar min detail is verskaf oor hoeveel geld elk van die lande sal bydra. – Bloomberg

Meer oor:  Cornwall  |  Brittanje  |  Beraad  |  Klimaat  |  G7
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.