Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Gasa-konflik: ‘Aanslae sal voortduur’, sê Netanyahu

’n Einde aan die week lange vyandigheid tussen Israel en militante in Gasa is nog nie in die vooruitsig nie, ten spyte van diplomatieke pogings om die vrede te herstel, het Benjamin Netanyahu, Israel se premier, Sondag gesê.

“Ons veldtog teen die terroriste-organisasies duur volstoom voort. Ons tree nou op vir so lank as wat nodig is om vir Israeliese burgers vrede te bring. Dit gaan tyd neem,” het hy in ’n toespraak gesê wat op televisie uitgesaai is.

Agt kinders tel onder die 33 Palestyne wat Sondag dood is in ’n Israeliese lugaanval nadat Gasa vroegoggend met vuurpyle bestook is.

Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad sou Sondag vergader om die ergste Israel-Palestynse geweld in jare te bespreek.

Die dodetal in Gasa het oornag tot 181 gestyg, wat 47 kinders insluit. Sedert die geweld Maandag begin het, het Israeliese lugaanvalle skerp toegeneem.

Tien mense, waaronder twee kinders, is in Israel dood.

Volgens Palestynse gesondheidsbeamptes is huise in die stad Gasa in Sondag se lugaanvalle geteiken. ’n Woordvoerder vir die Israeliese weermag het gesê dié beweringe sal ondersoek word.

Palestyne wat die puin opgeruim het van ’n gebou wat in ’n lugaanval vernietig is, het op die lyke van ’n man en vrou afgekom.

“Hierdie is oomblikke van afgryse wat niemand kan beskryf nie. Dis asof ’n aardbewing die gebied getref het,” sê Mahmoud Hmaid, ’n pa van sewe wat met die reddingspogings help.

In die stad Ashkelon het Zvi Daphna, ’n dokter wie se woonbuurt deur verskeie vuurpyle getref is, gesê hulle leef in vrees en afgryse.

Die toringgebou waarin die nuusorganisasies Associated Press en Al-Jazeera se kantore in die stad Gasa was, plof Saterdag in nadat dit deur ’n Israelse missiel getref is. Die gebou is benewens die nuusorganisasies se kantore bewoon deur Palestyne. Foto: Reuters
Ons het geen aanduiding dat Hamas in die gebou was of aktief in die gebou was nie.
Associated Press

Die Israeliese weermag sê Hamas, die Islamitiese militante groep in Gasa, en ander gewapende groepe het binne ses dae meer as 2 800 vuurpyle vanaf hul grondgebied afgevuur.

Volgens die weermag is dit meer as helfte van die vuurpyle wat in 2014 gedurende die oorlog van 51 dae tussen Hamas en Israel afgevuur is, en meer intensief as Hezbollah se bombardering vanaf Libanon in die oorlog in 2006 tussen Israel en die Sjiïte-groep wat deur Iran gesteun word.

Baie van die vuurpyle is deur ’n Israeliese teenmissiel-stelsel onderskep, terwyl sommige nie tot by die grens getrek het nie.

Israel se kabinet vir sekuriteit het Sondag vergader om die volgende stappe te bespreek te midde van diplomatieke pogings om die situasie te beredder.

Hamas se vuurpylaanval het Maandag begin ná weke se spanning oor ’n hofsaak om verskeie Palestynse families uit hul huise in Oos-Jerusalem te sit, asook uit weerwraak vir Israeliese polisie se botsings met Palestyne in Ramadaan naby die stad se Al-Aqsa-moskee.

Talle Amerikaanse diplomatieke pogings is al aangewend om die geweld te probeer bedwing, maar dit was onsuksesvol.

António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, het al die partye Saterdag in ’n verklaring daaraan herinner dat om burgerlike en mediastukture willekeurig te teiken internasionale reg skend en ten alle koste vermy moet word.

Hady Amr, ’n afgevaardigde van die Amerikaanse president Joe Biden, het Vrydag in Israel aangekom. Die Withuis sê Biden het Saterdag met Netanyahu en die Palestynse president, Mahmoed Abbas, gepraat.

Bemiddelingsprosesse word gekompliseer deurdat Amerika en ander groot Westerse lande nie met Hamas praat nie omdat hulle die groep as ’n terroriste-organisasie beskou.

Hoewel die militante se vuurpylveldtog op Israel gemik is, lei dit ook daartoe dat Abbas, wat steun uit Westerse geledere kry, gemarginaliseer word.

Volgens twee bronne het Egipte, in die afwesigheid van ’n diplomatiese deurbraak, die Rafah-grenspos in die suide van Gasa ’n dag vroeër geopen om deurgang makliker te maak vir mense wat mediese behandeling nodig het.

Lede van die Sror-gesin kyk Donderdag na die skade aan hul woonplek nadat dit onder Israelse vuurpyle deurgeloop het. Foto: AP

Israel en Hamas het gesê hulle sal albei aanhou met hul aanslae nadat ’n toringgebou in Gasa Saterdag deur Israel vernietig is. Die gebou het verskeie mediahuise soos Amerika se Associated Press en Qatar se Al-Jazeera gehuisves.

Volgens die Israeliese weermag was die Al-Jala-gebou ’n geldige militêre teiken omdat daar glo militêre kantore van Hamas in die gebou is. Die weermag sê hulle het vooraf gewaarsku dat die gebou ontruim moet word.

Associated Press het die aanval veroordeel en Israel gevra om bewyse te verskaf.

“Ons het geen aanduiding dat Hamas in die gebou was of aktief in die gebou was nie,” het die mediaorganisasie in ’n verklaring gesê.

Palestynse betogers het Sondag hul protes tussen brandende motorbande teen Israel voortgesit. Foto: Reuters
Betogers, die een ’n Palestynse ondersteuner en die ander ’n ondersteuner van Israel, kom teen mekaar te staan tydens protesoptogte wat Saterdag in Toronto, Kanada, gehou is.Foto: Reuters

Die weermag sê Hamas het in weerwraak vir die vernietiging van die gebou 120 vuurpyle in die nag afgevuur, waarvan baie onderskep is en talle nie ver genoeg getrek het nie en in Gasa beland het.

Volgens medici het Israeliese burgers na bomskuilings gevlug toe sirenes as waarskuwing oor die aankomende vuurpyle in Tel Aviv en die suidelike stad Beersheba begin loei het. Ongeveer tien mense is beseer toe hulle skuiling gesoek het.

Die konflik het woede en polarisering in Israel veroorsaak, met geweld wat tussen gemeenskappe in Joods-Arabiese dorpe ontstaan het. Sinagoges is aangeval en Arabiese winkels is gevandaliseer. Israel se president het teen ’n burgeroorlog gewaarsku. – Reuters

Meer oor:  Gasa  |  Israel  |  Geweld  |  Gasa-Konflik  |  Konflik  |  Dodetal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.