Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Géén wapens vir Noord, Suid’

Noord-Korea wil blykbaar hê die hele Koreaanse skiereiland moet sonder kernwapens wees.

En hy koppel nie eens voorwaardes aan sy eie ontwapening nie, het pres. Moon Jae-in van Suid-Korea Donderdaggesê.

Mike Pompeo. Foto: AP

Volgens Moon sal dit nie te moeilik wees om ooreenkomste met sy noordelike buurland te sluit by die beoogde spitsberade tussen Noord en Suid, asook tussen Noord-Korea en die VSA nie.

“Noord-Korea het die wens uitgespreek vir algehele kern-ontwapening. Hy het geen voorwaardes daaraan gekoppel wat vir die VSA onaanvaarbaar behoort te wees nie, soos die onttrekking van Amerikaanse soldate aan Suid-Korea,” het Moon gesê.

“Al wat hy uitgespreek het, is die wens dat vyandige beleid teen hom beëindig word, asook dat sy eie veiligheid gewaarborg word.”

Die noordelike diktatuur het nog altyd sy reuse-bewapeningsprogram geregverdig as noodsaaklik weens Amerikaanse aggressie.

Die VSA het nog 28 500 soldate in Suid-Korea – die nalatenskap van die Koreaanse Oorlog wat van 1950 tot 1953 geduur het.

Suid-Korea het Woensdag aangekondig hy sal dit oorweeg om die skietstilstand wat sedertdien geld voor sy eerste spitsberaad met die Noorde in ’n volwaardige vredesooreenkoms om te skakel. Die twee buurlande is tegnies nog in ’n staat van oorlog omdat die oorlog met ’n skietstilstand tot ’n einde gekom het en nie ’n vredesooreenkoms nie.

Moon het Donderdag die moontlikheid van ’n vredesooreenkoms herhaal.

Maar hy het ook gesê die twee Koreas sal nie veel kan vermag indien daar nie ook vordering gemaak word op die spitsberaad tussen pres. Kim Jong-oen en pres. Donald Trump nie.

As internasionale sanksies byvoorbeeld nie verslap word nie, sal hulle nie verdere ooreenkomste kan sluit nie.

“Daarom moet ons ’n goeie begin maak tydens die Suid-Noord-beraad en moet ons daardie gesprekke voortsit nadat ons gesien het wat die Noord-VSA-beraad oplewer,” het Moon gesê.

Laasgenoemde spitsberaad behoort einde volgende maand of in Junie plaas te vind.

Mike Pompeo, direkteur van die Amerikaanse spioenasiediens (CIA), het Kim verlede week besoek en volgens Trump het hulle ’n “goeie verhouding” gevestig.

Intussen het Noord-Korea se staatsmedia, KCNA, bekend gemaak sy regerende Werkersparty van Korea (WPK) se volle sentrale komitee gaan Saterdag vergader.

Hulle sal “beleidsake vir ’n nuwe fase” bespreek ten einde “aan die eise van die huidige belangrike geskiedkundige tydperk” te voldoen, het KCNA berig.

Nog ’n teken dat dinge in Noord-Korea vinnig besig is om te verander, is die feit dat Kim se vrou, Ri Sol-joe, ’n openbare statusverhoging gekry het, berig The Guardian.

Tradisie is eergister verbreek toe die staatsmedia haar, waarskynlik as voorbereiding op die spitsberaad met die VSA, die “gerespekteerde presidentsvrou” begin noem het. – Reuters

Meer oor:  Mike Pompeo  |  Samesprekings  |  Suid-Korea  |  Noord-Korea
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.