Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Notre-Dame-brand geblus, geld stroom in vir restourasie

Die verwoestende brand wat die Notre-Dame-katedraal Maandagaand in puin gelê het, is geblus.

Intussen stroom geld reeds in om die katedraal te herbou. 

Brandweerkenners sê die twee kloktorings is nie erg beskadig nie, berig The Guardian.

“Ons sal herbou!”

Dit is die boodskap van pres. Emmanuel Macron. Hy was op die toneel en het die brand as ’n “verskriklike tragedie” beskryf, maar sê dat “die ergste voorkom is”.

“Ek sê vir julle vanaand: Ons sal saam hierdie katedraal herbou. Van môre (Dinsdag) af sal daar met ’n stelsel begin word vir skenkings wat tot buite ons landsgrense sal strek.

“Notre-Dame is ons geskiedenis, dit is ons letterkunde, dit is ons beeld. Dit is die plek waar ons ons grootste oomblikke belewe, van oorloë tot pandemies tot bevryding,” sê Macron.

Anne Hidalgo, burgemeester in Parys, sê hulle sal 'n internasionale skenkerskonferensie hou sodat hulle geld vir die herbou van Notre-Dame kan insamel, berig France24.

Die miljardêr François-Henri Pinault, voorsitter van die internasionale luukse groep Kering en eienaar van Gucci, Yves Saint Laurent, Balenciaga en Alexander McQueen het reeds €100 miljoen geskenk vir die heropbou van die katedraal, luidens ’n verklaring. Pinault is met die aktrise Salma Hayek getroud.

In Amerika is daar reeds met fondinsamelingspogings begin. Die French Heritage Society in New York en die GoFundMe-skarefinansieringsplatform was die eerste om hulp aan te bied met die restourasie van die ikoniese katedraal wat toeriste van oor die hele wêreld wil sien, berig Reuters.

John Coventry, woordvoerder vir GoFundMe, sê meer as 50 veldtogte is reeds begin om geld vir die Notre-Dame-katedraal se restourasie in te win.

Daar is ook ’n paar grappige veldtogte wat geld insamel vir Quasimodo, die karakter in Victor Hugo se bekende 19de eeuse roman, Notre Dame de Paris (Die klokkeluier van Notre-Dame).

Lisa Bitel, hoogleraar in religie en geskiedenis aan die Universiteit van Suid-Kalifornië, sê die uitdaging gaan wees om te bepaal wat die inset van die skenker gaan wees in die herbou van die katedraal.

“Dis ’n nasionale monument in Frankryk en geen geld sal ontsien word om dit te herbou nie. Maar ek dink nie die Amerikaners sal ’n sê kry in hoe dit gedoen moet word nie.”

In die verlede het buitelandse skenkers ook geld gegee vir die Notre-Dame-katedraal se restourasieprojekte.

notre-dame
Die Notre-Dame-katedraal Maandag in ligte laaie. Foto: Getty Images

Ook van die onvervangbare artefakte en kunswerke wat in die kerk geberg is, het behoue gebly, berig CNN.

Wat genoem word die Heilige Kroon, ’n artefak wat baie mense glo die kroon van dorings is wat op Jesus te kop geplaas is toe hy gekruisig is en wat die katedraal sy “mees vereerde en kosbaarste oorblyfsel” noem, is onder meer gered.

Die dele van die kerk wat die ergste vernietig is, is ook die jongste, sê monseigneur Patrick Chauvet. Die toringspits is in die 19de eeu gerestoureer. Die baie ou dakraamwerk uit die 13de eeu is egter verlore. Die houtraamwerk is die “woud” genoem omdat 1 300 bome gebruik is om dit te bou, sê Chauvet.

Dit is steeds nie duidelik wat die brand veroorsaak het nie. Dit het vermoedelik in die solder ontstaan. Die brandweer het aanvanklik gesukkel om die katedraal deur Parys se verkeer te bereik. Sowat 400 brandbestryders het gehelp om die brand in bedwang te kry.

Duisende inwoners van Parys en toeriste het die tragedie dopgehou. Die mense het gewyde liedere gesing terwyl een van die Katolieke Kerk se grootste simbole in die week voor Paasfees afbrand.

* Intussen het Franse owerhede bevestig dat pres. Emmanuel Macron se Europese verkiesingsveldtog vir eers opsy geskuif is ná die verwoestende brand by Notre-Dame in Parys.

Meer oor:  Parys  |  Frankryk  |  Notre Dame  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.