Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
George Floyd: Wye betogings in VSA; brande naby Withuis

Brande is op die sesde dag van betogings naby die Withuis gestig en winkels in New York en Suid-Kalifornië is geplunder.

Dit kom ná die dood van George Floyd (46) op 25 Mei Nadat 'n polisielid hom in Minneapolis, Minnesota op ’n teerstraat vasgepen het en een sy knie op sy keel gehou het.

Reuters berig dat die betogings oor ras en polisiewreedheid aanvanklik vreedsaam was nadat Floyd se dood woede onder veral swart Amerikaners ontketen het.

Videomateriaal wys hoe Derek Chauvin (44), ’n wit polisielid, voor Floyd se dood sy knie byna nege minute lank op sy nek druk terwyl hy sê dat hy nie asem kan kry nie.

Chauvin is intussen in hegtenis geneem en sal op 8 Junie op onder meer ’n aanklag van moord in die hof verskyn, berig CNN.

Die owerhede het intussen in verskeie stede ’n aandklokreël van 18:00 tot 06:00 ingestel om die geweld in bedwang te probeer bring. Die Nasionale Garde  is in 15 deelstate en in Washington D.C. ontplooi.

Pres. Donald Trump het die betogers as “boewe” bestempel.

“Hierdie mense is anargiste,” het hy getwiet.

Betogers het Sondag brande naby die Withuis gestig en die polisie het die skare, wat “George Floyd” gedreunsing het, met traanrook uiteengejaag.

Geweld het ook in Boston uitgebreek toe betogers bottels na polisiebeamptes gegooi en ’n polisievoertuig aan die brand gesteek het.

Sondagmiddag het ’n tenkwa op die I-35-snelweg in Minneapolis wat vir verkeer gesluit was, tussen die betogers ingejaag. Die betogers het die bestuurder uit die vragmotor gepluk en aangerand voordat hy in hegtenis geneem is. Nie een van die betogers is beseer nie.

In Portland, Oregon, moes die polisie ook betogers met traanrook uitmekaarjaag.

George Floyd
’n Muurskildery van George Floyd met die woorde “I Can’t Breathe” wat hy meer as 12 keer aan polisiebeamptes gesê het toe hy vasgepen is. Foto: Reuters

In Santa Monica, Kalifornië, is luukse winkels geplunder voordat mense in hegtenis geneem is. Hierdie vandalisme het op ’n grootliks vreedsame optog gevolg.

In Long Beach, Los Angeles, het ’n groep die vensters van ’n winkelsentrum gebreek en winkels geplunder voordat hulle uitmekaargejaag is.

Duisende mense het Sondagmiddag bymekaargekom vir ’n byeenkoms in Minneapolis. Ongeveer 170 winkels is in die stad geplunder, het die burgemeester gesê.

In New York is winkelvensters stukkend geslaan en die polisie het sowat 350 mense in hegtenis geneem. Sowat 30 polisielede het ligte beserings opgedoen.

Protesoptogte het ook opgevlam in Chicago, Seattle, Salt Lake City, Cleveland en Dallas.

Sowat 24 gevalle van geweld teen joernaliste is ook sedert Vrydag aangemeld.

George Floyd
Betogers in Berlyn, Duitsland, woon ’n vreedsame betoging by ná die dood van George Floyd in Minneapolis, Minnesota, in die VSA. Foto: Reuters

Die betogings het na die res van die wêreld versprei, met voorvalle Sondag in Londen en Berlyn, en Maandag in Nieu-Seeland, Australië en Nederland.

Betogers in Auckland het ná ’n vreedsame optog in die pad gesit terwyl hulle hul gebalde vuiste omhoog gehou het as ’n teken van solidariteit en swart mag. Op sosiale media is foto’s geplaas van betogers buite die Amerikaanse konsulaat in Auckland met plakkate wat lui: “Geregtigheid vir George Floyd” en “Is ons volgende?”

In die hoofstad, Wellington, het meer as 100 mense van Nieu-Seeland se parlementsgebou na die Amerikaanse ambassade gestap en “Black Lives Matter” gesing.

Daar word vir Maandagaand ook ’n nagwaak in Wellington beplan. Betogings word ook Dinsdagaand in Australië verwag. – Reuters



Meer oor:  George Floyd  |  Derek Chauvin  |  Betogings  |  Withuis  |  Amerika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.