Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Geweld in Mosambiek ‘raak 43 van SA’

Volgens die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Maputo, Mosambiek, word altesaam 43 Suid-Afrikaners geraak deur die onlangse aanvalle in die noorde van die land.

Luidens ’n verklaring deur die departement van internasionale betrekkinge en samewerking was die Suid-Afrikaners in die gebied bekend as Afungi.

Dit sluit in die twee mans wat tydens die aanvalle op die Amarula Palma-hotel in die hawedorp Palma die bosse ingevlug het, en ’n jong Suid-Afrikaner wat weggekruip het en deur soek- en reddingshelikopters gevind is. Sommige van hierdie burgers is reeds tuis, terwyl ander na veilige gebiede in Mosambiek geneem is.

Islamitiese ekstremiste het sedert Woensdagmiddag op die dorp toegesak.

Die aanvalle in Palma het begin kort nadat die Franse oliemaatskappy Total en die Mosambiekse regering aangekondig het dat Total se projek vir vloeibare gas weer in werking gestel sal word, het Reuters vroeër berig.

Meer as 150 buitelanders het in die hotel geskuil terwyl die ekstremiste verwoesting in die dorp gesaai het.

Die groep buitelanders het Vrydag die hotel in ’n konvooi van 17 voertuie verlaat voordat hulle deur die ekstremiste aangeval is.

Dit is toe dat Adrian Nel (40) doodgeskiet is. Sy pa, Greg, en broer, Wesley, kon wegkom en het met sy lyk in die bosse geskuil totdat hulle die volgende oggend hul weg tot in Pemba kon vind.

Francois van Niekerk (21) van eMalahleni en Nick Alexander, nog ’n Suid-Afrikaner, het ook die bosse ingevaar nadat die ekstremiste die hawedorp uit drie rigtings binnegestorm het.

Die Dyck Advisory Group (DAG), huursoldate van Suid-Afrika, het hulle Sondag opgespoor.

Die hoë kommissariaat bly op ’n gereedheidsgrondslag met ’n opsporingsproses om te bepaal of daar nog Suid-Afrikaners is wat geraak word.

Die dienste wat deur die hoë kommissariaat gelewer word, sluit in hulp aan Suid-Afrikaanse burgers met mediese noodontruiming, die verkryging van nooddokumentasie en die beveiliging van internasionale vlugoordragte.

Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het die personeel van die Suid-Afrikaanse hoë kommissariaat in Maputo geloof vir hul vinnige pogings om na Suid-Afrikaners in nood in Mosambiek uit te reik. Die minister het haar medelye aan Nel se familie betuig met sy afsterwe.

Meer oor:  Mosambiek  |  Terreur  |  Palma  |  Naledi Pandor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.