Ongeveer 125 mense is in die noorde van Indië vermis ná ’n gletser Sondag van die Himalaja-gebergte afgebreek en ’n hidro-elektriese dam weggespoel het. Die dorpies onder die dam moes noodgedwonge ontruim.
“Dit het baie vinnig gekom, daar was nie tyd om enigiemand te waarsku nie,” het Sanjay Singh Rana, wat aan die bokant van die rivier in Raini woon, via telefoon gesê.
Uttarakhand se minister Trivendra Singh Rawat het gesê 125 mense is reeds vermis, maar die getalle kan nog styg. Tot dusver is die lyke van sewe mense gekry.
Die ramp het ongeveer 500 km noord van Nieu-Delhi plaasgevind.

Lede van die Indo-Tibetan Border Police (ITBP) soek vir oorlewendes in Chormi, Indië na ’n gletser van die Himalaja-gebergte afgebreek en ’n hidro-elektries dam weggespoel het.Foto: REUTERS
Om Prakash, hoofsekretaris, het gesê hulle vrees dat tussen 100 en 150 mense dood kan wees.
’n Groot getal van die vermiste mense was glo werkers by die 13,2 MW Rishiganga- hidroëlektriese projek, wat deur die gletser verwoes is.
Beeldmateriaal wat deur plaaslike inwoners gedeel is, wys hoe die water dele van die Rishiganga-dam en alles in sy pad wegspoel. Minstens 180 skape het ook weggespoel.
Twaalf mense wat in ’n tonnel vasgevang is, is ook gered en pogings is aangewend om mense te red wat in ’n ander tonnel vasgevang is.

Lede van die Indo-Tibetan Border Police (ITBP) soek vir oorlewendes in Chormi, Indië na ’n gletser van die Himalaja-gebergte afgebreek en ’n hidro-elektries dam weggespoel het.Foto: REUTERS
“Indië staan saam met Uttarakhand en die nasie bid vir almal se veiligheid daar,” het die premier, Narendra Modi, op Twitter geskyf.
Volgens NTPC het die stortvloed deel van sy Tapovan Vishnugad-hidrokrageenheid, wat onder konstruksie was, beskadig.
Indiese militêre helikopters het oor die gebied gevlieg en soldate is ontplooi om te help met die redding. Uttar Pradesh, Indië se mees dig bewoonde gebied, se rivieroewer is ook op hoë waarskuwing geplaas. – Reuters