Twee skaars berggorillas uit die Virunga Nasionale Park in die Republiek van die Kongo het die wêreld aangegryp toe hulle ewe kontant soos mense in Mathieu Shamavu, ’n veldwagter, se selfie staan.

Mathieu Shamavu se selfie met Ndakazi en Ndeze wat hy op die sosiale media geplaas het.
Ndakazi en Ndeze, twee wyfies wat van kleins af in ’n weeshuis vir berggorillas woon, het geleer om mense na te aap omdat hulle sulke direkte kontak met hulle het.
“Wat berggorillas se gedrag betref, boots hulle alles na wat gebeur, alles wat ons doen,” het Shamavu aan The Guardian gesê.
Die gorillas kry soveel geleentheid as moontlik om in hul eie habitat te beweeg, maar weens die baie kontak met mense, vertoon hul baie dieselfde gedrag as ’n mens.
Hulle het baie versorging nodig, daarom woon die veldwagter naby en hul dag bestaan daaruit om die gorillas te voer, met hulle te speel en hulle geselskap te hou.
Shamavu sê hy het iets op sy foon gekyk toe hy sien die twee wyfies na-aap sy bewegings. Toe neem hy die selfie en plaas dit op sosiale media. Dit het vinnig versprei en duisende duimpies gekry.
Ndakazi en Ndeze is 12 jaar gelede wees gelaat nadat hul ouers deur stropers doodgemaak is en hulle is na die Senkwekwe Mountain Gorilla Orphanage-sentrum gebring, berig The Standard.
Hulle was die eerste wesies by die sentrum, die enigste van sy soort wat net na berggorillas omsien. Dit is genoem na Senkwekwe, een van die silwerrug-mannetjies wat in 2007 in Virunga doodgemaak is.
“Gorillaversorgers en daai gorillawesies, ons is dieselfde familie,” sê Andre Bauma, die hoofversorger. Hy sê omdat die gorillas alleen is, behandel hulle die versorgers soos hul familie.
“Hulle weet ons is hul ma. Hulle is ’n lid van die familie. Ons is hul vriende,” sê Bauma.