Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Graad op 96 jaar is net die begin . . .

Op die ouderdom van 96 het Giuseppe Paterno al baie toetse deurstaan – kinderarmoede, oorlog en meer onlangs, die Covid-19-virus.

Maar hy het deur ’n eksamen geseil wat hom Italië se oudste mens wat gradueer maak.

Giuseppe Paterno, wat op 96 jaar die oudste Italianer geword het wat graad vang, by sy gradeplegtigheid Woensdag in Palermo, Sicilië. Foto: Reuters

Dié voormalige spoorwegwerker het onder applous van sy familie, dosente en medestudente meer as 70 jaar jonger as hy, vorentoe getree om sy graadsertifikaat en die tradisionele lourierkrans te ontvang.

“Ek is ’n normale mens, soos baie ander,” het Paterno gesê toe hy gevra is hoe dit voel om so laat in die lewe graad te vang.

“In terme van ouderdom het ek al die ander geklop, maar ek doen dit nie daaroor nie.”

Hy was reeds in die negentig toe hy by die Universiteit van Palermo ingeskryf het vir ’n graad in geskiedenis en filosofie. Paterno het grootgeword met ’n liefde vir boeke, maar het nooit die geleentheid gekry om te studeer nie.

“Ek het gesê: ‘Dit is dit, dit is nou of nooit,’ en so, in 2017, het ek besluit om in te skryf,” het hy in sy woonstel in die Siciliaanse stad Palermo aan Reuters vertel. Hy verlaat sy woonstel deesdae selde weens sy brose toestand.

“Ek het geweet dis ’n bietjie laat om ’n driejaar-graad te kry, maar het aan myself gesê: ‘Kom ons kyk of ons dit kan doen.’ ”

Hy het Woensdag eerste in sy klas en met onderskeiding graad gevang en is deur Fabrizio Micari, die kanselier van die universiteit, gelukgewens.

Hy het as kind in ’n arm gesin voor die jare van die Groot Depressie net basiese onderwys in Sicilië ontvang. Hy het by die vloot aangesluit en het in die Tweede Wêreldoorlog diens gedoen voordat hy by die spoorweg begin werk het, getroud is en twee kinders grootgemaak het.

In ’n gemeenskap wat gerig was op heropbou ná die oorlog, was werk en familie die prioriteite.

Paterno wou egter leer en was 31 jaar oud toe hy matriek geslaag het. Hy het altyd die begeerte gekoester om verder te leer.

“Kennis is soos ’n tas wat ek saam met my dra; dit is ’n skat,” het hy gesê.

As ’n student het hy sy opstelle op ’n gewone tikmasjien getik wat sy ma vir hom gegee het toe hy in 1984 uit die spoorweë afgetree het.

Hy het Google vermy ten gunste van gedrukte boeke. Hy was ook nie in die versoeking om laataand studentepartytjies by te woon nie.

Sy klasmaats is nou iets in die twintig en hulle het hom hartlik toegejuig toe hy sy sertifikaat kry.

“Jy is ’n voorbeeld vir jonger studente,” het sy sosiologie-professor, Francesca Rizzuto, vir hom gesê nadat hy in Junie sy finale eksamen geslaag het.

Paterno bieg dat hy effens ongemaklik was met die afstandonderrig per video wat kontakonderrig gedurende die Covid-19-inperking vervang het, maar sê nie die oorlog destyds of enigiets daarna het hom van stryk gebring nie.

“Al daardie dinge het ons sterker gemaak, almal in my portuurgroep wat nog lewe,” het hy gesê.

“Dit het ons nie regtig juis afgeskrik nie.”

Oor sy toekomsplanne sê hy dat hy nie van plan is om nou op te hou nadat hy graad gevang het nie.

“My projek vir die toekoms is om te skryf; ek wil al die tekste wat ek nie ’n kans gehad het om te bekyk nie, verder ontgin. Dit is my doel.” Reuters

Meer oor:  Giuseppe Paterno  |  Italië  |  Leer  |  Graad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.