Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Guterres vir tweede termyn aan stuur van VN

Die Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies (VN) het die Veiligheidsraad van dié organisasie se aanbeveling aanvaar om die VN se huidige sekretaris-generaal, Antonio Guterres, vir ’n tweede termyn te herkies, berig Reuters.

Guterres, die huidige sekretaris-generaal, se tweede termyn sal op 1 Januarie 2022 begin.

Antonio Guterres word Vrydag tot ’n tweede termyn beëdig as sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies. Foto: VN/Twitter

Die Algemene Vergadering met sy 193 lede het Guterres Vrydag onbestrede tot ’n tweede termyn herkies.

Guterres het vroeër die week, nadat die Veiligheidsraad hom aanbeveel het, gesê hy is dankbaar dat die raad soveel vertroue in hom het en dat hy nederig sal voel indien hy vir ’n tweede termyn met die verantwoordelikheid vertrou word.

Hy het nadat hy herkies is gesê om die VN te dien is ’n ongelooflike voorreg en “die edelste plig wat daar bestaan”.

Guterres het in Januarie 2017 vir Ban Ki-moon opgevolg, net voordat Donald Trump as president ingehuldig is.

Guterres moes baie van sy energie in sy eerste termyn daarop fokus om Trump te paai nadat Trump die waarde van die VN en multilaterale ooreenkomste bevraagteken het.

Amerika is die land wat die meeste geldelik bydra tot die VN se begroting en dra ongeveer 22% tot die algemene begroting en 25% tot vredesendings by.

Pres. Joe Biden, wat in Januarie vir Trump opgevolg het, het reeds begin om besnoeiings wat Trump tot dié bydraes gemaak het te herstel.

Hoewel ’n klein groepie Guterres om die posisie wou uitdaag, is hy op die ou end onbestrede herkies.

Portugal het Guterres benoem, maar nie een van die ander potensiële kandidate is deur ’n lidland benoem nie.

Guterres (72) was die premiet van Portugal van 1995 tot 2002 en vanaf 2005 tot 2015 die hoof van die VN se agentskap vir vlugtelinge.

As sekretaris-generaal het hy hom bemoei vir optrede teen klimaatsverandering, Covid-190-entstowwe vir almal en digitale samewerking oor die wêreld heen.

Guterres het die leisels as hoof van die VN oorgeneem toe die organisasie gesukkel het om oorloë te beëindig en om die humanitêre krisisse in Sirië en Jemen op te los.

Dié konflikte is steeds nie opgelos nie en Guterres moet nou ook by krisisse in Mianmar en Ethiopië ingryp.

Die menseregteorganisasie Human Rights Watch het Guterres gevra om in sy tweede termyn ’n meer openbare standpunt in te neem.

Human Right Watch sê sy bereidwilligheid om menseregtevergrype in Mianmar en Belarus te veroordeel moet uitgebrei word na ander regerings wat magtig en beskermend is en verdien om veroordeel te word.

Kenneth Roth, hoofdirekteur van Human Rights Watch, sê Guterres se eerste termyn is gekenmerk deur ’n openbare stilte oor die vergrype in China, Rusland en Amerika.

Stephane Dujarric, woordvoerder van die VN, sê Guterres het sterk standpunte oor die beskerming van menseregte en die veroordeling van sulke vergrype.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.