Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Harris looi Trump in 1ste toespraak

Kamala Harris, senator van Kalifornië, het Woensdag in haar veldtogdebuut as Joe Biden se Demokratiese visepresidentskandidaat onder pres. Donald Trump ingeklim.

“Amerika het leierskap nodig, maar ons het ’n president wat meer vir homself omgee as vir die mense wat hom verkies het, ’n president wat elke uitdaging waarvoor ons te staan kom nog moeiliker maak om te bowe te kom.”

Oor Biden, die voormalige visepresident onder oudpres. Barack Obama, het sy gesê hy besef wat die kritieke probleme is en die belang daarvan om die naam van die eerste swart vrou en eerste Asiatiese Amerikaner op die stembrief te plaas.

Die 55-jarige Harris is Dinsdag as Biden se verkiesingsmaat aangekondig. Die 77-jarige Biden sal die oudste Amerikaanse president nog wees as hy die verkiesing wen en daar word bespiegel dat hy hom nie in 2024 herkiesbaar sal stel nie.

Volgens ’n Reuters/Ipsos-peiling, wat Woensdag bekend gemaak is, het byna nege uit tien Demokrate Biden se keuse goedgekeur.

Harris het in haar toespraak gesê Biden is gereed om die uitdagings die hoof te bied wat deur Trump se mislukkings in die hantering van die pandemie en die ekonomiese gevolge daarvan veroorsaak is.

“Dit is ’n uiters belangrike tyd vir Amerika. Alles waarvoor ons omgee – ons ekonomie, ons gesondheid, ons kinders, die soort land waarin ons woon – is op die spel.”

Kamala Harris, senator van Kalifornië en Joe Biden se verkiesingsmaat, het Woensdag haar veldtogdebuut gemaak. Foto: Reuters

Biden en Harris het hul toesprake in die Delaware High School, naby Biden se huis, gelewer. Daar was geen skare nie en die twee kandidate het met hul aankoms maskers gedra en ’n gesonde afstand van mekaar op die verhoog gehandhaaf.

Die gesamentlike verskyning kom enkele dae voordat Biden amptelik die Demokrate se benoeming van hom as hul presidentskandidaat sal aanvaar.

Biden het Woensdag gesê Harris se toevoeging tot die veldtog stuur ’n kragtige boodskap aan meisies oor die land heen.

“Meisies oor die land heen – veral jong swart en bruin meisies wat so gereeld in hul gemeenskappe misken en nie genoeg gewaardeer word nie – het vanoggend wakker geword en kan hulself vandag vir die eerste keer op ’n ander manier – as presidente en adjunkpresidente – sien.”

Trump het op ’n nuuskonferensie in die Withuis aan verslaggewers gesê hy het ’n deel van Biden en Harris se toesprake gekyk en is verbaas dat sy Demokratiese teenstander iemand gekies het wat in haar eie veldtog as presidentskandidaat vir die Demokrate misluk het.

Beledigings is blitsvinnig uit die geledere van Trump se veldtog na Harris geslinger, berig The Guardian.

Nie net is ’n kort video uitgereik waarin sy as “die mees liberale en linkse benoemde” uitgebeeld word nie, maar talle e-posse is ook aan Trump se ondersteuners gestuur.

“Joe Biden en Kamala Harris sal Amerika vernietig,” lui een van die e-posse.

Volgens Trump sal sy en Biden wetteloosheid veroorsaak.

In ’n skynbare verwysing na haar en Biden se voorverkiesingsdebat toe beide presidentskandidate vir die Demokrate was, het Trump gesê sy is “gemeen”.

“Sy was geweldig disrespekvol teenoor Biden. Sy was waarskynlik baie meer gemeen as Pocahontas (sy bynaam vir sen. Elizabeth Warren, wat ook ’n kandidaat was) teenoor Joe Biden. Sy het nare dinge oor hom gesê in die voorverkiesingsdebat en dit moet moeilik wees om iemand te kies wat so oneerbiedig is,” het hy gesê. – Reuters





MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.