Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Historiese vlug vir Israel na VAE
Jared Kushner (regs), presidensiële raadgewer van die VSA, luister na Amerika se veiligheidsraadgewer, Robert O’Brien, voordat hulle gister die El Al-vlug na Tel Aviv in Israel haal wat ’n afvaardiging van die VSA en Israel na Abu Dhabi geneem het.Foto: AP

Jared Kushner (derde van regs), senior raadgewer en skoonseun van pres. Donald Trump, en Robert O’Brien (derde van links), die VSA se nasio­nale veiligheidsraadgewer, saam met lede van die Israeli-VSA-afvaardiging voor ’n El Al-vliegtuig wat die afvaardiging gister van die Ben Gurion-lughawe in Tel Aviv na Abu Dhabi gevlieg het. Foto: Reuters

Toppersoneel van pres. Donald Trump van die VSA en Israel se premier, Benjamin Netanyahu, het Mandag die historiese eerste vlug van Tel Aviv na die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) onderneem om die verdrag te finaliseer waarmee betrekkinge tussen dié Golf-moondheid en Israel gevestig is.

Selfs nog voordat die besprekings begin het, het die afgevaardigdes lugvaartgeskiedenis gemaak toe die Israelse kommersiële lugdiens-vliegtuig van Tel Aviv na die hoofstad van die VAE oor Saoediese grondgebied gevlieg het.

“Dit is hoe vrede lyk,” het Netanyahu getwiet om die ooreenkoms te beskryf vir formele betrekkinge met ’n Arabiese staat wat nie vereis dat Israel grondgebied wat hy in die 1967-oorlog beset het, hoef terug te gee nie.

Dié normaliseringsooreenkoms, wat op 13 Augustus aangekondig is, is die eerste in sy soort tussen ’n Arabiese land en Israel in 20 jaar. Die katalisator daarvan was ’n gedeelde vrees vir Iran.

Die Palestyne was ontsteld deur die VAE se stap en is bekommerd dat dit die jare lange pan-Arabiese koalisie se posisie wat vra vir Israel se onttrekking van die besette gebied en aanvaarding van Palestynse staatskap, sal verswak ter wille van normale betrekkinge tussen Arabiese lande en Israel.

Jared Kushner, Trump se skoonseun en senior nasionale raadgewer, en Robert O’Brien, nasionale veiligheidsraadgewer, het die VSA se afvaardiging gelei.

Die Israelse afvaardiging is gelei deur O’Brien se ampsgenoot, Meir Ben-Shabbat.

Amptenare sal nou bilaterale samewerking ontgin op gebiede soos handel en toerisme, en Israelse verdedigings-afgevaardigdes sal die VAE afsonderlik besoek.

“Ek het gister by die (westelike) muur gebid dat Moslems en Arabiere oor die wêreld heen die vlug sal gadeslaan, en sal insien dat ons almal kinders van God is en dat die toekoms nie voorafbepaal hoef te word deur die verlede nie,” het Kushner by die aanloopbaan by Ben Gurion-lughawe aan verslaggewers gesê.

Israelse beamptes hoop dat die sending van twee dae lank ’n datum sal help oplewer vir ’n ondertekeningsplegtigheid, in Washington, dalk al in September, tussen Netanyahu en Abu Dhabi se kroonprins sjeik Mohammed bin Zajed al-Nahjan.

Só ’n plegtigheid kan Trump in die aanloop tot die presidentsverkiesing in November ’n hupstootjie gee wat buitelandse beleid betref.

Die Trump-regering het probeer om ander Soennities-Arabiese lande wat bekommerd is oor Iran in die dieselfde rigting te stuur en met Israel in gesprek te tree. Die magtigste van dié state is Saoedi-Arabië. Hoewel die land se lugruim vir ’n El Al-vlug geopen het, het hy aangedui dat hy nog nie gereed is vir so ’n stap nie.

Hanan Asjrawi, ’n lid van die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PLO) se uitvoerende komitee, het gesê Kushner en sy span “skarrel om soveel as moontlik Arabiese en Moslemleiers te oorreed om in November aan Trump ’n verkiesinghupstootjie te gee”.

Sy het die poging ’n betekenislose spektakel genoem wat nié vrede na die streek sal bring nie. – Reuters

Meer oor:  Vae  |  Benjamin Netanyahu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.