Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Hoe voel julle oor miljardêrs, word Musk-jurie gevra

Potensiële jurielede in die lastersaak teen die tegno-entrepreneur Elon Musk kan van juriediens verskoon word as hulle sterk menings het oor miljardêrs en oor mense wat Thailand besoek.

Elon Musk. Foto: AP-argieffoto

Die kies van jurielede het Dinsdag in Los Angeles begin in die siviele lastersaak wat deur ’n Britse grotduiker, Vernon Unsworth, teen Musk gebring is.

Unsworth was betrokke by die redding van 12 sokkerspelertjies en hul afrigter wat verlede jaar vasgekeer was in ’n grot tydens oorstromings in Thailand.

Hy beweer Musk het in ’n twiet na hom verwys as die “pedo guy” en eis nou skadevergoeding weens skade aan sy reputasie.

Stephen Wilson, ’n distrikslanddros, het gesê hy sal potensiële jurielede vra of hulle sterk menings het oor miljardêrs en mense wat in Thailand woon of die land besoek.

Dié soort vrae word gevra om te bepaal of iemand die vermoë het om onpartydig te wees.

Hy gaan ses tot 12 jurielede kies, hoewel hy dink agt jurielede sal ideaal wees.

Die saak sal begin sodra die jurie aangestel is. Musk sal na verwagting die eerste getuie wees wat deur Unsworth geroep sal word.

Die saak spruit uit Musk se aanbod om ’n mini-duikboot van sy SpaceX-maatskappy beskikbaar te stel vir die reddingspoging in Julie 2018.

Drie dae ná die redding het Unsworth aan CNN gesê Musk se aanbod was ’n publisiteitsfoefie. Hy het gesê Musk moet sy duikboot “indruk waar dit seer maak”.

Vernon Unsworth. Foto: AP-argieffoto

Musk het Unsworth twee dae later in ’n twiet ’n “pedo guy” genoem. Hy het later om verskoning gevra.

Musk, wat in Suid-Afrika gebore en getoë is, het sowat 2,8 miljoen volgelinge op Twitter. Reuters

Meer oor:  Vernon Unsworth  |  Stephen Wilson  |  Elon Musk  |  Thailand  |  Grotredding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.