Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Hof: Meghan meen koninklikes steun haar nie in swangerskap

Meghan, die hertogin van Sussex, het tydens haar swangerskap gevoel dat die Britse koninklike familie haar nie ondersteun nie, volgens hofdokumente wat voor die Londense hooggeregshof dien.

Die dokumente is deel van Meghan se regsgeding teen die uitgewers Associated Newspapers oor berigte wat verlede jaar in die Mail on Sunday gepubliseer is. In een van die berigte is uittreksels geplaas van ’n handgeskrewe brief wat sy in Augustus 2018 aan haar vervreemde pa, Thomas Markle, geskryf het.

Markle en sy dogter het nog nie met mekaar gepraat nadat hy weens hartchirurgie en die onthulling dat hy saam met ’n steelfotograaf gewerk het, nie haar troue met prins Harry in Mei 2018 bygewoon het nie.

Die Mail on Sunday regverdig die publisering van die brief op grond daarvan dat vyf vriende van Meghan (hulle staan in die dokumente net as A,B,C, D en E bekend) in Mei 2019 in onderhoude met die Amerikaanse tydskrif People melding van Meghan se brief aan haar pa gemaak het.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, kom in Maart vanjaar hul laaste verpligting as senior koninklikes na. Hulle het ’n diens ter ere van die Statebond saam met ander senior koninklikes bygewoon. Foto: Reuters

Haar regspan voer aan dat dit onwaar is dat sy gereël het óf haar vriende toestemming gegee het om met People oor die brief te praat.

“Die eiser het die onderwerp geword van ’n groot aantal vals en skadelike berigte in die Britse poniepers, veral deur die verweerder, wat geweldige emosionele ongesteldheid veroorsaak en haar geestesgesondheid skade berokken het,” voer Meghan se regspan aan.

“Omdat haar vriende haar nog nooit voorheen in só ’n toestand gesien het nie, was hulle met reg bekommerd oor haar welstand – veral omdat sy swanger was, sonder beskerming van die instelling (die koninklike familie) en verbied was om haarself te verdedig.”

Harry en Meghan woon tans in Los Angeles nadat hulle as senior koninklikes teruggestaan het. Harry het in ’n onderhoud daarop gesinspeel dat hy en sy broer, prins William, nie meer langs dieselfde vuur sit nie, en Meghan het oor die gebrek aan ondersteuning tydens haar swangerskap en as ’n nuwe ma gepraat.

Hulle voer ook die intense mediabelangstelling, en wat hulle beskou as die koerant se rassistiese beriggewing oor Meghan, aan as deel van hul besluit om as senior koninklikes terug te tree. (Meghan se ma, Doria Ragland, is swart en haar pa wit.)

Die verhoor sal na verwagting nie vanjaar plaasvind nie.

Die regter het reeds in Mei vanjaar besluit om ’n deel van Meghan se aanname – dat die koerant oneerlik was en die onmin tussen pa en dogter aangestook het – te verwerp.

Harry het Woensdag in ’n video-boodskap vir die Diana-toekennings gesê hy is jammer dat rassisme steeds endemies in gemeenskappe is. Die toekennings is ter herdenking van sy en William se ontslape ma, prinses Diana, gestig.

Diana is in Augustus 1997 dood ure nadat sy in ’n noodlottige ongeluk in Parys, Frankryk, was. Die motor waarin sy was, het probeer om steelfotograwe af te skud wat Diana agtergevolg het. – Reuters

Meer oor:  Meghan  |  Koninklikes  |  Swangerskap  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.