Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Trump 'n 2de keer in staat van beskuldiging

23:25

Pas Bekend: Die Amerikaanse huis van verteenwoordigers het ten gunste daarvan gestem dat pres. Donald Trump in 'n staat van beskuldiging gestel word. 

Die finale stemming was soos volg: 232 ten gunste, 197 daarteen en vyf het nie gestem nie. Tien Republikeine het ten gunste van die staat van beskuldiging gestem.

Dit is die eerste keer dat 'n president twee keer in sy ampstermyn in 'n staat van beskuldiging gestel word.

Trump sal in die senaat verhoor word.




Lede van die Amerikaanse huis van verteenwoordigers was Woensdagaand in ’n emosionele debat gewikkel voordat hulle sou stem of  pres. Donald Trump vir die tweede keer in 'n staat van beskuldiging gestel gaan word, terwyl lede van die Nasionale Wag buite die deur die kongresgebou bewaak.

Met slegs ’n week oor in Trump se onstuimige vierjaartermyn, kan ’n onmiddellike verhoor die senaat in staat stel om te stem of Trump die Withuis moet verlaat voordat Joe Biden op 20 Januarie amptelik as president ingehuldig word.

Die huis het reeds omstreeks 12:30 (Amerikaanse tyd) begin debatteer oor die enkele aanklag teen Trump: aanhitsing tot ’n opstand.

Dit kom nadat Trump verlede week sy ondersteuners toegespreek het kort voordat hulle die kongresgebou bestorm het. Vyf mense is dood en talle ander is beseer.

Trump het Woensdag in ’n verklaring deur die Withuis laat hoor dat hy nie die gewelddadige protes steun nie.

“In die lig van die gerugte oor nog betogings, vra ek dat daar geen geweld, geen oortreding van die wet en geen vandalisme van enige aard sal wees nie. Dit is nie waarvoor ek staan nie en ook nie waarvoor Amerika staan nie. Ek doen ’n beroep op alle Amerikaners om die spanning te help verlig en humeure te laat bedaar.”

Honderde troepe van die Nasionale Wag slaap binne die Amerikaanse Kongresgebou terwyl die huis van verteenwoordigers besluit of hulle pres. Donald Trump in ’n staat van beskuldiging gaan plaas. Foto: AP

Nancy Pelosi, speaker van die huis en ’n Demokraat, het gesê Trump is ’n “duidelike en dringende gevaar”.

“Ons weet die president het die opstand, die gewapende rebellie teen ons gemeenskaplike land, aangehits. Hy moet gaan.”

Dit is egter nie net die Demokrate wat Trump se kop eis nie. Talle Republikeine wat jare lank lojale ondersteuners van Trump was, steun ook die staat van beskuldiging.

Dit sluit in Liz Cheney, die Republikeine se derde belangrikste lid in die huis van verteenwoordigers.

Cheney het die media in die kongresgebou toegespreek en gesê sy is nie van plan om uit die party te bedank nie.

“Dit is ’n stem wat deur my gewete gelei word. Dit is een waaroor daar verskillende sienings in ons eie koukus is. Maar ’n ongekende grondwetlike krisis staar ons nasie in die gesig. Dit is waarop ons gefokus moet wees. Dit is waar ons pogings en aandag moet wees,” het Cheney gesê.

Daar word verwag dat die partye teen Woensdagaand sal stem, waarna die uitslag bekend gemaak sal word.

Intussen het YouTube, nes Twitter en Facebook, gesê hy sal nie meer video's op Trump se kanaal toelaat nie.

Geen nuwe video’s of stroming sal vir minstens sewe dae op dié kanaal gelaai kan word nie – en dit kan verleng word, lui ’n verklaring deur YouTube. - Reuters, CNN, Twitter

Soldate is oral in die Kongresgebou ontplooi. Foto: Reuters


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.