Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Hulle sou dit anders doen, erken Swede

Die Sweedse regering het ’n kommissie van ondersoek ingestel na dié land se besluit om nie ’n staat van inperking in te stel om die verspreiding van Covid-19 te keer nie.

Dit kom nadat die getal sterftes per capita in Swede die laaste tyd tot onder die hoogste ter wêreld opgeskiet het.

Onder skoot: Prof. Anders Tegnell

Teen die naweek het Swede se sterftes op 460 per miljoen van die bevolking gestaan – die sewende hoogste ter wêreld, aldus data van Worldometer. In België is 826 per miljoen mense dood, in Brittanje 593 en in Spanje 617.

Swede se totale sterftesyfer is aansienlik hoër as dié van sy buurlande, waar streng inperkings van meet af aan ingestel is. Teen die naweek is 4 639 mense in Swede aan Covid-19 dood. In Noorweë is 238 mense dood – 44 sterftes per miljoen van die bevolking.

In Denemarke is 101 mense per miljoen van die bevolking dood (’n totaal van 586 sterftes) en in Finland is net 58 per miljoen mense (322 sterftes) aangemeld.

Prof. Johan Giesecke, Swede se voormalige staatsepidemioloog en senior regeringsraadgewer, en prof. Anders Tegnell, die land se staatsepidemioloog, is onder diegene wat ander lande skerp gekritiseer het vir hul streng inperkings.

Giesecke is wêreldwyd in die media aangehaal as dat hy sou gesê het lande verf hulself in ’n hoek met die inperkings omdat dit moeilik is om dit op te hef. Boonop sal infeksies opskiet na waar dit in elk geval sou wees wanneer die inperkings opgehef word.

Die Sweedse eerste minister het gesê die land se oorkoepelende beleid was korrek, maar hulle het nie genoeg gedoen om bejaardes in tehuise te beskerm nie.

Swede het min amptelike inperkingsmaatreëls afgekondig. Laerskole, winkels, gimnasiums en restaurante het oop gebly en Sweedse burgers is bloot gevra om ’n veilige afstand te handhaaf. Versorgingsoorde vir bejaardes is vir besoeke gesluit en sosiale byeenkomste van meer as 50 mense is verbied.

“Daar was duidelik ruimte vir verbetering in wat ons gedoen het,” het Tegnell die afgelope week aan CNN gesê. “Te veel mense is dood.”

Volgens hom sal hulle die pandemie anders takel met die kennis wat hulle nou het.

“As ons dieselfde siekte moes hanteer met die kennis wat ons nou het, dink ek ons sou ’n beleid in werking gestel het wat tussen dit val wat Swede en die res van die wêreld gedoen het.”

Stefan Löfven, die Sweedse eerste minister, het gesê die land se oorkoepelende beleid was korrek, maar hulle het nie genoeg gedoen om bejaardes in tehuise te beskerm nie, berig The Guardian. Sowat die helfte van die sterftes het tot dusver onder bejaardes in tehuise voorgekom.

Annika Linde, Tegnell se voorganger, het die afgelope week gesê sy het die strategie aanvanklik gesteun, maar van plan verander toe die sterftes onder bejaardes begin toeneem. “Daar was geen strategie vir die (beskerming van) bejaardes nie.”

Lande wêreldwyd moet die voor- en nadele van inperkings opweeg, oftewel die ekonomiese impak teenoor die mediese voordele daarvan, sê prof. Landon Myer, ’n epidemioloog aan die Universiteit van Kaapstad.

“Almal sal oor twee jaar die regte antwoorde hê (oor hoe die pandemie hanteer moes word), maar dit help nie regerings wat môre groot besluite moet neem nie.”

Volgens Myer is daar nog baie min bekend oor die virus self, hoe dit behandel moet word en oor die maniere waarop dit oorgedra word.

“Dit beteken regerings sal foute maak en ’n mens moet simpatie hê daarvoor.”

Wat betref Suid-Afrika se inperking sê Myer mense weet nou die land kan ’n baie streng inperking in werking stel sou dit weer nodig wees.

Meer oor:  Swede  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.