Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Ierse agterdeur’ uit die weg geruim
Michel Barnier, die EU se hoof-onderhandelaar oor Brexit, gister op ’n nuuskonferensie in Brussel. Foto: Reuters
’n Ondersteuner van geen Brexit, Steve Bray, betoog gister oorkant die parlement in Londen. Foto: AP

Boris Johnson, Britse premier, het gister aangekondig die Europese Unie (EU) het onverwags ’n gewysigde Brexit-ooreenkoms aanvaar, hoewel daar nog in die Europese en Britse parlement oor die plan gestem moet word.

Dit kan die weg baan dat Brittanje ná 46 jaar die bande met die EU breek.

Maar Noord-Ierland se Demokratiese Unionisteparty (DUP) het gesê hulle kan steeds nie die ooreenkoms aanvaar nie, wat probleme vir Johnson skep omdat hy die steun van die laerhuis in ’n moontlike stemming môre nodig het om ’n ordelike Brexit op 31 Oktober te verseker.

Johnson wou juis na die EU-beraad gaan met die DUP wat die ooreenkoms sou bekragtig, dus was die skielike aankondiging oor die ooreenkoms ’n verrassing.

“Ons het ’n wonderlike nuwe ooreenkoms wat beheer terugneem, en nou kan die parlement Saterdag stem om Brexit af te handel sodat ons kan aanbeweeg na ander prioriteite soos lewenskoste, die NHS (National Health Service), gewelddadige misdaad en ons omgewing,” het Johnson op sy amptelike Twitter-rekening geskryf.

Jean-Claude Juncker, president van die Europese Kommissie (EK), het die Brexit-ooreenkoms in ’n twiet bevestig.

“Waar daar ’n wil is, is ’n ooreenkoms, ons het dit gedoen! Dit is ’n regverdige en gebalanseerde ooreenkoms vir die EU en die Verenigde Koninkryk (VK) en dit is ’n getuigskrif dat ons daartoe verbind is om oplossings te vind. Ek beveel aan dat die EK die ooreenkoms onderskryf,” het hy gesê.

Die sogenaamde Ierse agterdeur, soos wat Johnson se voorganger, Theresa May, se voorstel gedoop is om ’n harde grens te vermy, geld nie meer nie.

Die DUP, ’n bondgenoot van Johnson se Konserwatiewe Party, se besware het vrese laat ontstaan dat lede van die Konserwatiewe Party die bekragtiging van die plan kan teenstaan tensy nie nog veranderings aan die plan gemaak word nie.

Arlene Foster, DUP-leier, en haar adjunk, Nigel Dodds, het vroeër in ’n verklaring gesê dié party kan weens doeane-kwessies nie die plan steun nie. Die groot kwessie is om ’n harde grens tussen Noord-Ierland en die Republiek van Ierland ná Brexit te vermy omdat Ierland as onafhanklike staat in die EU gaan bly.

Onderhandelaars het deurnag gewerk om tot ’n vergelyk te kom oor die kwessie, wat die uitdagendste aspek van Brexit is en die rede is waarom die Britse parlement die Brexit-plan wat May ter tafel gelê het, twee keer verwerp het.

’n Belangrike vraag op die beraad is of die EU-leiers bereid sal wees om Juncker se skuif te bekragtig. Die Ierse premier, Leo Varadkar, en Mette Fredeiksen van Denemarke het albei gewaarsku teen inmenging in die VK se huishoudelike sake.

“Die beste ding wat ons kan doen, is om nie in die VK se interne politiek in te meng nie,” het Varadkar gesê.

“Dit hang van die laerhuis af om te besluit of hulle ’n ooreenkoms wil hê.

“Van nou af het ons geen versoeke vir ’n uitstel nie. As en wanneer ’n versoek ontvang word, sal ons dit oorweeg, maar nie voor dan nie.”

Michel Barnier, die EU se hoofonderhandelaar oor Brexit, het op ’n nuuskonferensie gesê verkose politici in Noord-Ierland kan ingevolge die ooreenkoms ná vier jaar in ’n stemming besluit of hulle wil voortgaan om die EU se handelsreëls toe te pas of nie.

Jeremy Corbyn, leier van die Britse Arbeidersparty, het ná die nuus oor die ooreenkoms gesê hy steun dit nie en dat ’n tweede referendum gehou moet word.

Meer oor:  Boris Johnson  |  Brexit  |  Europese Unie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.