Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
In Madagaskar-tronk oor ánder se bedrog

Die Suid-Afrikaanse besturende direkteur van ’n maatskappy in Madagaskar sit reeds bykans drie maande in die tronk nadat die maatskappy se finan­siële bestuurder glo sy handtekening op tjeks vervals het.

Chris van Jaarsveld

Meer as R40 miljoen is op dié manier glo verduister terwyl die sakeman, wat die sement en ander materiaal sou lewer, ’n strafregtelike saak teen Chris van Jaarsveld (46) as die besturende direkteur aanhangig gemaak het.

Van Jaarsveld was die afgelope vyf jaar die Madagaskar-hoof van Quality Transmission Equipment (QTE), wat selfoonmaste vir dié eiland se selfoonverskaffers opgerig het.

Volgens Andrew Edmondson, uitvoerende hoof van QTE in Suid-Afrika, het die maatskappy in April vanjaar vermoed daar skort iets met sy finansiële state – waarna ’n ouditeur van Suid-Afrika gestuur is om die boeke na te gaan.

’n Senior amptenaar van die maatskappy het kort daarna verdwyn nadat hy onverklaarbaar glo ernstig siek geraak het.

Amptenaar verdwyn, state is vernietig.

Tot op hede is hy “so siek” dat die polisie glo nog nie eens ’n verklaring by hom kon kry nie.

Daar word vermoed dat van die geld wat verduister is, in die onlangse verkiesing vir een van die kandidate se veldtogte gebruik is.

Volgens Anne Castel, Van Jaarsveld se vrou, is die handtekening op die tjeks deur ’n kundige ontleed, wat bevind het dat dit nie haar man s’n is nie. Die hof wou nietemin steeds nie borgtog aan Van Jaarsveld toestaan nie. Altesaam drie aansoeke om borgtog was reeds onsuksesvol terwyl haar man in haglike omstandighede in ’n sel saam met 120 gevangenes aangehou word.

Volgens Edmondson het die amptenaar die elektroniese state vernietig, en die enigste harde kopie van state het saam met hom verdwyn.

“Ons het die rekening gesluit om te verhoed dat enige verdere transaksies deurgaan. Dit was nadat ons dit gesluit het dat die een verskaffer se tjek toe nie uitbetaal is nie en hy die saak teen Chris aanhangig gemaak het.

“Die nasionale selfoonnetwerk het vervolgens ook sy kontrak opgeskort en só het al 700 Malgassiese werknemers ook hul werk by ons maatskappy verloor.”

Volgens hom word die saak bemoeilik omdat die polisie nog geen formele klagstaat verskaf het waarom Van Jaarsveld aangehou word nie.

Castel sê sy moet betaal om haar man in die tronk te gaan besoek.

“Chris se sel het ’n enkele gat in die grond vir ’n toilet. Hy is bedruk, want niemand weet wat aangaan en hoe lank hy nog aangehou gaan word nie. Omdat ons nie weet wie almal betrokke is in die hele gemors nie, weet ek nie hoe veilig hy of ek en ons kind is nie.”

Die egpaar het ’n tienjarige dogter.

Volgens Edmondson is daar eers agterna vasgestel dat die amptenaar se assistent ’n familielid van hom is. Dié het sedertdien ’n eie onderneming in Dubai begin.

“Die man het amper vyf jaar ons finansies hanteer, terwyl Chris die bedryfskant bestuur het.

“Nou het die hele kontrak in duie gestort, en Chris byt die spit af.”

Antanimora, die tronk in Antananarivo, die hoofstad, is Madagaskar se mees oorbevolkte tronk met meer as 3 300 gevangenes in ’n tronk bedoel vir 800.

Luidens ’n verslag deur Amnestie Internasionaal vroeër vanjaar is daar meer as dubbeld soveel verhoogafwagtendes in Madagaskar as veroordeeldes.

Die departement internasionale betrekkinge en samewerking het ondanks navrae nie gereageer nie.

Volgens Castel doen die plaaslike Suid-Afrikaanse ambassadepersoneel egter alles moontlik om haar man te probeer help.

Meer oor:  Madagaskar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.