Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Indien dit só aangaan, wen Trump weer’
Trump-ondersteuners buite die Amway-sentrum in Orlando, Florida, waar die Amerikaanse president sy veldtog om herkies te word Dinsdag amptelik aangekondig het.Foto: Getty Images

Die deur van die Oval Office in die Withuis staan volgens minstens een kenner reeds wawyd oop vir pres. Donald Trump om Amerika vir ’n tweede termyn te lei.

Trump het sy veldtog om herkies te word verlede week in Orlando, Florida, begin.

Die Demokrate sal ’n groot fout maak as hulle dink al die omstredenheid wat om sy kop woed, onder meer weens die Mueller-verslag oor Rusland se moontlike betrokkenheid by sy verkiesing in 2016, gaan sy kanse verdoem.

Dit is die mening van prof. Cas Mudde van die skool vir openbare en internasionale aangeleenthede aan die Universiteit van Georgia.

Hy het in ’n rubriek in The Guardian geskryf al is Trump se gewildheid volgens die jongste peilings op ’n laagtepunt, gaan dit waarskynlik glad nie oor 500 dae, wanneer die verkiesing gehou word, saakmaak nie.

“Verrassend genoeg, gegewe die traumatiese gebeure van 2016, verstaan baie Demokrate steeds nie die belangrikste kenmerk van die demokrasie in Amerika nie: Verkiesings word nie gewen deur passiewe meerderhede nie, maar deur gemobiliseerde minderhede,” skryf hy.

Daar is volgens Mudde vier redes waarom Trump weer gaan seëvier:

1. Die ekonomie: Amerika se ekonomie is tans gesond en, soos in 2016, wys alle skattingsmodelle wat bloot op sakesyfers gegrond is dat Trump die meeste steun gaan kry.

2. Trump het sy beloftes aan gematigde Republikeine, wat die grootste deel van dié party se lede uitmaak, nagekom. Hulle hou nie werklik van hom nie, maar hou beslis van die belastingtoegewings wat hy ingestel het. Hulle sal volgens Mudde bang wees ’n liberale Demokratiese president neem dit weg en sal daarom vir Trump stem.

3. Konserwatiewe Christene sal ook weer in groot getalle hul kruisies agter sy naam trek – omdat hy sy belofte gestand gedoen het deur twee behoudende regters in die hooggeregshof aan te stel wat teen aborsies gekant is. Hulle wil nog sulke aanstellings sien.

4. Laastens, skryf Mudde in sy rubriek in The Guardian, is daar die tradisionele Trump-ondersteuner: Die blouboordjiekieser uit die laer middelklas.

Hulle wil Trump se beloofde muur wat immigrante uit hul land moet hou, gebou sien. Want dit is hulle wat deur die Mexikane bedreig voel.

Al het daar nog nie veel van die muur gekom of het hulle werklik baat gevind by Trump se eerste termyn nie, is dit maklik om hulle te mobiliseer. En dis buite die kwessie dat hulle sal stem vir ’n party met liberale soos Elizabeth Warren en Alexandria Ocasio-Cortez in sy geledere.

Die Demokrate is boonop verdeeld: Meer as 20 lede het hulle as presidentskandidaat beskikbaar gestel.

En Trump bedryf eintlik sedert sy inhuldiging reeds ’n “permanente verkiesingsveldtog”. Die borge wat by sy beleid baat kan vind, staan reeds tou om sy veldtog te finansier.

Daar is “net 500 dae” oor vir die Demokrate om vinger te trek. Anders is dit “Trump, Hoofstuk 2”, meen Mudde.

Meer oor:  Donald Trump  |  Amerika  |  Presidentskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.