Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
‘Intimidasie die oogmerk met terreur in Mosambiek’

Die hoofoogmerk van die militante in die Cabo Delgado-provinsie in die noorde van Mosambiek is intimidasie eerder as besetting.

So sê die Amerikaanse navorsingsinstansie Armed Conflict Location & Event Data Project (Acled).

Hy sê in sy jongste nuusbrief die meeste slagoffers in die Miudumbe-distrik, waar meer as 50 mense verlede Vrydagnag onthoof is, is lede van die plaaslike Makonde-stam. Dié stam steun die Frelimo-regering in Maputo.

Dit was meestal mans en seuns wat in verskeie nedersettings in die Miudumbe en Macomia-distrik deur Islamitiese militante onthoof is.

Dit word beskou as die ergste aanval in Cabo Delgado sedert die militante dié provinsie in 2017 binnegeval het.

Vroue en kinders is as gyselaars geneem en huise is afgebrand.

Van die vermoorde mense van een van die nedersettings is uit die bosse waar hulle geskuil het, na ’n sokkerveld gebring en daar tereggestel, het die Mosambiekse polisie op ’n mediakonferensie in Maputo gesê, berig die staatsbeheerde Mosambiekse nuusagentskap.

Die dorp Palma in die Cabo Degado-provinsie in die noorde van Mosambiek. Foto: Argief

Die BBC berig die militante het “Allahoe akbar” (“God is die allergrootste”) geskree toe hulle skote geskiet en huise in die Nanjaba-nedersetting aan die brand gesteek het.

Cabo de Delgado is ryk aan olie en gas en verskeie lande het belange daar.

Die webwerf Africa Intelligence berig benewens Frankryk, Italië en Portugal toon dr. Angela Merkel, die Duitse bondskanselier, al hoe meer belangstelling in wat in die noorde van Mosambiek gebeur.

China, Rusland en Suid-Afrika het onder meer ook belange in Cabo Delgado.

Suid-Afrika hoop om later van die gas in dié provinsie in te voer.

Acled sê die militante se boodskap met die onthoofding van die mense is ’n waarskuwing aan burgerlikes, die Mosambiekse weermag en burgersoldate dat dieselfde ook met hulle kan gebeur.

Isis steun die militante wat hulself Al Soennah wa Jama’ah (ASJ) noem.

Die aanvalle op die Makondes is ’n aanval op hul kulturele tradisies. Van die slagoffers was jong seuns wat ’n inisiasieskool bygewoon het.

Intussen erken die Mosambiekse regering in ’n verslag aan die parlement hy het sedert begin Augustus geen beheer oor die hawedorp Mocimboa da Praia nie.

Verskeie gevegte tussen die Mosambiekse weermag en die militante het verlede week op die strategiese pad tussen Palma en Mueda voorgekom.

Meer as 2 000 mense is al sedert 2017 dood van wie meer as die helfte burgerlikes is. Meer 300 000 mense moes uit hul huise vlug en 712 000 mense het volgens die organisasie Amnestie Internasionaal humanitêre hulp nodig.

Baie waarnemers meen Cabo Delgado het ’n teelaarde vir die militante geword omdat dié provinsie deur die Mosambiekse opposisieparty Renamo beheer word en dus deur die Frelimo-regering afgeskeep word.

Die Mosambiekse regering het die internasionale gemeenskap al gevra om hom te help in die stryd teen die militante. Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap oorweeg tans hoe hy betrokke kan raak.

Zimbabwe se pres. Emmerson Mnangagwa het Woensdag op Twitter gesê hy is baie bekommerd oor wat in Zimbabwe se buurland gebeur. “Die dade van barbaarsheid moet uitgewis word,” het hy geskryf. – Saamgestel deur Sarel van der Walt

Meer oor:  Mosambiek  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.