Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Iran: Boris krabbel terug oor steun aan Trump

Brittanje het van sy ambassadepersoneel aan Iran en Irak onttrek en dit duidelik gestel dat hy nie pres. Donald Trump van Amerika se dreigement steun om kulturele terreine aan te val nie.

Slegs kernpersoneel is in die twee ambassades oor, terwyl albei ambassadeurs – Rob Macaire in Teheran en Stephen Mickey in Bagdad – steeds op hul poste is, sê ’n woordvoerder van die Britse departement van buitelandse sake.

Dit is nie gedoen weens spesifieke dreigemente nie, maar as ’n algemeen voorkomende stap.

Ontleders gewaarsku dat Iran die Britte as ’n sagte teiken in die Midde-Ooste kan beskou. Hy kan moontlik reken dat ’n aanval op ’n Britse teiken ’n boodskap aan die Weste sal stuur sonder om dieselfde vergelding van Amerika te ontlok.

Boris Johnson. Foto: Getty Images

Die Britse woordvoerder sê die veiligheid van die personeel is “van die aller grootste belang” en hul veiligheidstatus word voortdurend hersien.

Boris Johnson, Britse premier, probeer ook sedert Maandag om Brittanje van Trump se al hoe kragdadiger aanvalsretoriek te distansieer.

Johnson se woordvoerder het daarop gewys dat internasionale konvensies geld wat die vernietiging van kulturele terreine verbied. Trump het gedreig om van dié terreine aan te val.

Johnson het ook gesê hy steun steeds die kernverdrag van 2015 met Iran. Trump het Amerika in 2018 eensydig daaraan onttrek en dit vervang met streng sanksies om groter druk op Iran te plaas.

Iran se aankondiging dat hy hom nie meer gaan steur aan die verdrag wat sy kernkragontwikkeling beperk nie, is volgens Johnson se woordvoerder “uiters kommerwekkend”.

“Dit is in almal se belang dat die verdrag steeds geld. Ons praat dringend met ons vennote oor watter stappe gedoen moet word.”

Brittanje en sy vennote vrees wraakaanvalle van Irak en sy ondersteuningsmagte in die gebied nadat Amerika een van die bekendste en gewildste militariste in die streek doodgemaak het. Genl.maj. Kassem Soleimani is verlede week naby die Bagdad-lughawe vermoor.

Na wat verneem word, is Brittanje se buitelandse kantoor in ’n “krisisstatus”, wat beteken dat sy personeel wat by sy betrekkinge met Iran en Amerika betrokke is tans van ’n krisissentrum in Whitehall in Londen werk.

Dominic Raab, Brittanje se minister van buitelandse sake, sê Brittanje gaan ook die militêre beskerming in die Straat van Hormoes verby Iran opskerp. Dit is die wêreld se belangrikste olieroete.

“My en die premier se boodskap aan ons Europese en Amerikaanse eweknieë, asook ons vennote in die Midde-Ooste is dat dit noodsaaklik is om die spanning in die streek af te skaal en ’n diplomatieke oplossing deur die krisis te vind,” het Raab gesê.

Hy het Donderdag samesprekings gehou met Mike Pompeo, Amerika se minister van buitelandse sake, en hy sal ook met sy ampsgenote in Frankryk en Duitsland praat.

Na wat berig word, is ’n span van 20 militêre beplanners die naweek na Bagdad gestuur om die ontruiming van Britte in die streek te behartig. - Bronne: Xinhua, Sky, The Sun.




Meer oor:  Boris Johnson  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Iran
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.