Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Iran sweer wraak ná sluipmoord op kern-man

Iran beskuldig Israel en die VSA van die sluipmoord op sy top-kernwetenskaplike en sweer wraak.

Die toneel van die sluipmoord.

Vrydag se sluipmoord op Mohsen Fachrizadeh, hoof van navorsing en innovering van die Iranse ministerie van verdediging, het die spanning in die Persiese Golf dramaties verhoog in die laaste paar weke van pres. Donald Trump van die VSA se termyn.

Fachrizadeh is algemeen beskou as die sleutelrolspeler in Iran se kernprogram. Hy is sowat 60 km oos van die hoofstad, Teheran, vermoor.

Pres. Hassan Roehani van Iran het die moord in ’n verklaring bestempel as ’n “daad van terrorisme” wat deur die “Israelse regime” uitgevoer is.

“Terroriste het ’n vooraanstaande Iranse wetenskaplike vermoor. Dié lafhartigheid – met ernstige aanduidings van Israeliese betrokkenheid – dui op desperate oorlogstokery deur die oortreders,” het Mohammad Djavad Zarif, Iranse minister van buitelandse sake, op Twitter gesê. Hy het geen bewyse van Israel se betrokkenheid verskaf nie.

Mohsen Fachrizadeh

Die Iranse weermag pak die skuld ook op Amerika. Amir Hatami, Iranse minister van verdediging, het aan ’n staatsbeheerde televisiestasie gesê die sluipmoord “hou duidelik verband” met die Amerikaanse sluipmoord op genl. Kasem Soleimani met behulp van ’n hommeltuig in Januarie. Hy was leier van Iran se magtige Koeds-mag, wat deel van die Islamitiese Revolusionêre Wag is.

Die kantoor van Benjamin Netanyahu, Israelse premier, wou nie kommentaar lewer nie, en ook nie amptenare van die Pentagon nie. Die Amerikaanse CIA het ook nie gister kommentaar gelewer oor vrae oor of die Amerikaners voorafkennis van die sluipmoordplanne gehad het nie.

Trump het ’n berig van The New York Times oor Fachrizadeh se dood hertwiet sonder enige kommentaar. Hy het ook ’n twiet van ’n Israelse joernalis hertwiet waarin die sluipmoord as ’n “groot sielkundige en professionele terugslag vir Iran” beskryf is.

Foto’s wat oënskynlik op die sluipmoordtoneel geneem is en wat deur die halfamptelike Fars-nuusagentskap gepubliseer is, wys bloedspatsels in die pad langs ’n swart passasiersmotor. Die bestuurder se ruit is afgedraai en die motor se voorruit het verskeie koeëlgate. Minstens een lyfwag is ook in die skietery dood, het Fars berig.

Fachrizadeh se sluipmoord volg op die dood van vier ander Iranse kernkenners sedert 2010. Teheran het die skuld daarvoor gewoonlik op intelligensieagentskappe van Israel en Amerika gepak. Dié twee lande word ook alom verdink van ’n kuberaanval op Teheran se kernprogram ’n dekade gelede.

Israel beskou die Iranse kernkragprogram lankal as een van die grootste staatsveiligheidsrisiko’s. Israel beloof ook al lank dat hy stappe sal doen om te keer dat Iran kernwapens bekom, maar Iran ontken dat hy kernwapens wil ontwikkel.

Netanyahu het Fachrizadeh in April 2018 uitgesonder in ’n voorlegging oor Iran se kernprogram. Hy het gesê Fachrizadeh was die direkteur van ’n geheime projek om kernwapens te vervaardig.

Die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Kernkragagentskap het gesê die Iranse Projek Amad is in 2003 op die langebaan geskuif en Iran het Netanyahu se voorlegging destyds as “leuens en oorlogstokery” beskryf.

Die sluipmoord op Fachrizadeh kom op ’n sensitiewe tyd omdat Trump se onttroning in die Amerikaanse verkiesing vir Iran ’n geleentheid gebied het om bande met die Weste te herbou.

Madjid Tacht Rawantsji, Iran se ambassadeur by die VN, het aan die VN se Veiligheidsraad geskryf en gevra die organisasie moet die sluipmoord op Fachrizadeh veroordeel.

Rawantsji waarsku Amerika en Israel ook in die brief om nie “avontuurlustige stappe” te doen nie – veral nie tydens die oorgangsproses van die Withuis nie. – Bloomberg

Meer oor:  Vsa  |  Iran  |  Israel  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.