Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Irannese olietenkskip op pad na Sirië onderskep

Britse seesoldate het Donderdag in Gibraltar op ’n supertenkskip van Iran beslag gelê wat die Europese Unie (EU) se sanksies verontagsaam het en met olie na Sirië op pad was.

Iran is woedend oor hierdie stap wat tot groter konfrontasie met die Weste kan lei.

Die Grace 1-supertenkskip is in Britse gebied aan die suidpunt van Spanje geskut nadat dit al die pad om Afrika gevaar het op die langste roete van die Midde-Ooste af na die monding van die Middellandse See.

Die supertenkskip Grace 1 Donderdag naby Gibraltar.Foto: Reuters

Iran se minister van buitelandse sake het die Britse ambassadeur ingeroep om sterk beswaar te maak oor die “onwettige en onaanvaarbare inbeslagneming” van die skip.

Dié diplomatieke optrede het alle twyfel uit die weg geruim dat die skip, wat onder ’n Panamese vlag vaar en deur ’n maatskappy in Singapoer bestuur word, aan Iran behoort.

John Bolton, Amerika se nasionale veiligheidsraadgewer, sê die Britte se optrede is “uitstekende nuus”.

“Amerika en sy bondgenote sal voortgaan om te voorkom dat die regerings in Teheran en Damaskus uit hierdie smokkelhandel munt slaan,” twiet Bolton.

’n Britse vlootpatrollieskip hou Donderdag wag by die supertenkskip Grace 1 naby Gibraltar.Foto: Reuters

Luidens die skip se dokumente kom die olie van Irak, maar Reuters het inligting gesien wat aantoon dit is Irannese olie.

Matthew Oresman, ’n regsverteenwoordiger wat maatskappye oor sanksies raad gee, sê dit is die eerste keer dat die EU so openlik en aggressief optree.

“Ek dink dit is ook op ’n manier met Amerika gekoördineer omdat magte van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) betrokke is. Dit is waarskynlik ’n teken aan Sirië en Iran, asook aan Amerika, dat Europa ernstig is oor die afdwing van sanksies. Dit is ook ’n teken dat die EU kan optree teen Iran gedurende die onderhandelinge oor sy kernwapenbeleid.”

Die EU het tot dusver in hierdie opsig neutraal probeer voorkom.

’n Inligtingsbron in seevaart sê die skip het waarskynlik die lang roete om Afrika aangepak om die Suez-kanaal te vermy waar daar maklik op sy vrag beslag gelê kon word.

Gibraltar is ’n Britse gebied hoewel Spanje beweer dit is geskiedkundig sy terrein.

– Reuters

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.