Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Troepe op die grond is nodig, sê kenner
IS: Wat jy alles moet weet
Waar kom die Islamitiese Staat (IS) vandaan? Hoe word dié terroriste-groep gefinansier en waar het hulle verwoesting gesaai? Lees hier alles wat jy oor IS moet weet.
IS-vegters ry in Junie 2014 in ’n tenk as deel van ’n militêre parade in die strate van Rakka in Sirië.Foto: Reuters
Abdelhamid Abaaoud (27), ’n Belgiese burger in Sirië, is glo een van die Islamitiese Staat (IS) se aktiefste lede. Daar word vermoed dat hy die baasbrein agter die terreuraanvalle Vrydag in Parys was.

Pres. François Hollande se “oorlogsverklaring” teen die Islamitiese Staat (IS) is politieke retoriek wat niks beteken indien Frankryk nie troepe op die grond in Sirië ontplooi nie.

En die enigste manier om IS heeltemal en finaal te verslaan, is om grondtroepe te ontplooi. Maar dit sal lewens en geld kos – en politieke kapitaal opeis.

Prof. Hussein Solomon, terreurkenner van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat, sê die Franse regering het sy lugaanvalle op IS-bedrywighede in Sirië versterk, maar sal nie troepe daarheen ontplooi om direk teen IS te veg nie.

Pres. Barack Obama het Maandag gesê die VSA sal nie troepe op die grond in Sirië ontplooi nie.

“Dit is te laat vir enige niegewelddadige optrede teen IS. Die Amerikaners en Europeërs is verkeerd om te dink lugaanvalle is genoeg. Hulle moet op die grond wees.

“Obama beskerm sy politieke nalatenskap deur nie troepe te ontplooi nie, maar dit maak uit ’n strategiese oogpunt geen sin nie,” sê Solomon.

Volgens hom is Amerikaners en Europeërs sedert 2001 moeg vir oorlog.

Ná die terreuraanvalle Vrydag in Parys is Europeërs veral gekant teen IS, maar dit beteken nie hulle wil hul burgers in lyksakke sien terug kom nie.

Solomon sê IS wil polarisasie skep.

Volgens Washington Post was 7,5% van Frankryk se bevolking in 2010 Moslem en sal dit teen 2030 tot meer as 10% styg.

“Frankryk het die grootste Moslembevolking in Europa. IS fokus op burgerlike teikens om vrees en paniek te saai,” sê Solomon.

Volgens hom hoop IS dit sal Islamofobie daar aanblaas en gevolglik Moslems na hul beweegrede lok.

IS het wêreldwye ambisie. Die groep beheer reeds ’n gebied die grootte van Brittanje in Sirië en Irak.

IS het 17 geaffilieerde streeksterreurgroepe buite dié lande en het geheime agente (sleeper cells) in 60 lande.

Die opkoms van die Islamitiese Staat (IS)

’n IS-reklamebord in die stad Rakke in Sirië sê: “Ons sal wen ondanks die wêreldwye koalisie”.Foto: Reuters/Nour Fourat

IS het in Februarie 2014 outonoom geword nadat Al-Kaïda homself amptelik van sy eertydse geaffilieerde groep gedistansieer het.

Volgens IS is sy leier, Abu-Bakr al-Baghdadi, die leier van die hele wêreldwye Moslemgemeenskap, het Reuters berig.

Ayman al-Zawahiri, Al-Kaïda-leier, het IS verwerp ná herhaalde pogings om ’n dispuut tussen IS en die al-Nusra Front, Al-Kaïda se amptelike vleuel in Sirië, op te los, misluk het.

’n Verklaring deur Al-Kaïda het dit laat blyk dat IS verantwoordelik was vir die skeuring, het The Washington Post berig.

IS het glo die belangrikheid van “konsultasie” en “spanwerk” geïgnoreer in sy aggressiewe uitbreiding oor noordelike Sirië sedert hy sy amptelike vorming in April 2013 aangekondig het.

IS se taktieke sluit in onthoofding en aanrandings, en die verbod op rook, musiek en ander sogenaamde nie-Islamitiese gedrag.

Dít het in Januarie 2014 tot wydverspreide opstande teen IS in noordelike Sirië gelei. Die al-Nusra Front het saam met matige rebelle teen IS geveg.

IS het terug baklei en het beheer oor die stede Rakka en Aleppo, en baie van die gebied se hulpbronne, insluitend olievelde, behou. Dit help IS om onafhanklik te werk.

Omtrent 10 miljoen mense bly onder IS-beheerde gebiede.

IS se kalifaat

Prof. Hussein Solomon, terreurkenner in die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat, sê IS se strewe om ’n kalifaat – ’n Islamitiese staat – te vestig, is nie slegs tot Sirië en Irak beperk nie.

Die doel van ’n kalifaat is om alle Moslems oor die wêreld te verenig.

“IS glo in die Moslem-armageddon. Hulle glo dat konflik die Messias sal meebring.

“IS glo dat wanneer Moslems swaarkry, die Mahdi sy opkoms sal maak om alle Moslems oor die wêreld heen te verenig,” sê Solomon.

Volgens hom beskou IS pres. Barack Obama as die “Antichris”. Die Mahdi sal volgens hulle die weg baan vir die wederkoms van die Christelike godefiguur Jesus, wat volgens IS ’n Moslem is.

Die eerste kalifaat het met die profeet Mohammed se dood in die jaar 632 begin, berig Vox.

Die tweede kalifaat het in 661 – ná die eerste Moslem-burgeroorlog – begin en tot 750 geduur. Die hoofstad was Damaskus, wat vandag die hoofstad van Sirië is.

Daarom is dit belangrik vir IS om ’n nuwe kalifaat in Sirië te vestig.

Hoe word IS gefinansier?

IS befonds homself deur olieverkope, lospryse vir ontvoerdes, smokkelary, afpersing, belasting, plundery en bankrooftogte, berig The Independent.

Die terreurgroep was aanvanklik befonds deur ryk skenkers; individue en liefdadigheidsorganisasies van veral Saoedi-Arabië, Katar en Koeweit.

IS-beheerde gebiede vervaardig tot 60 000 vate olie per dag, wat die kalifaat ’n geskatte £1 miljoen elke 24 uur in die sak bring.

IS het in die laaste twee jaar omtrent $40 miljoen van ryk skenkers ontvang.

Volgens die Amerikaanse tesourie het die groep minstens $20 miljoen in lospryse in 2014 ingepalm.

IS verdien glo $2 miljard per jaar deur olieverkope, tolgeld en belasting.

Rook styg oor die Siriese dorp Kobani nadat ’n lugaanval in Oktober 2014 daar plaasgeving het.Foto: Reuters/Kai Pfaffenbach
’n Kind se skoen lê op die grond vóór die wrakstukke van ’n Russiese vliegtuig wat op 31 Oktober in die lug bo Sinai in Egipte ontplof het. IS het verantwoordelikheid geneem vir die terreuraanval. Al 224 mense aan boord is dood.Foto: Reuters/Mohamed
Ontheemde lede van die Yazidi-sekte wat van IS-geweld in die dorp Sinjar gevlug het, loop in Augustus 2014 na die Siriese grens.REUTERS/Rodi SaidFoto: Reuters/Rodi Said
Inwoners van Beiroet in Libanon en soldate inspekteer Donderdag die skade wat veroorsaak is in twee ontploffings daar. IS-aanvalle het die lewens van 43 mense geëis.Foto: Reuters/Khalil Hassan
Die ma van Muath al-Kasaesbeh, ’n Jordaniese vlieënier wat deur IS gyselaar gehou is, hou op 27 Januarie ’n foto van hom vas by ’n protesoptog by ’n staatsgebou in Jordanië. Die betogers wou hê dat die Jordaniese regering met IS vir sy vrylating onde
Mense by die Trocadero naby die Eiffeltoring hou Maandag ’n minuut van stilte om eer te betoon aan die slagoffers van die terreuraanvalle in Parys.Foto: Reuters/Philippe Wojazer
Die lyk van ’n man wat in Maart dood is toe ’n selfmoordbomaanvaller homself by ’n moskee in Sanaa in Jemen opgeblaas het. 137 mense is in twee gekoördineerde selfmoordbomaanvalle daar dood. Foto: Reuters/Khaled Abdullah

IS-terreuraanvalle in 2015

IS is verantwoordelik of het aanspraak gemaak op verantwoordelikheid vir 61 terreuraanvalle in 2015. Minstens 1 752 is dood.

Die meerderheid aanvalle was in Sirië en Irak.

Frankryk, Egipte, Saoedi-Arabië, Libië, Jemen, Tunisië, Afghanistan, die VSA, Koeweit, Turkye, Bangladesj en Libanon was ook geteiken.

Die dodelikste terreuraanval waarvoor IS verantwoordelikheid geneem het, is die Russiese vliegtuig wat op 31 Oktober in die lug bo Sinai in Egipte ontplof het. Al 224 mense aan boord is dood.

146 mense is 25 Junie in Kobani in Sirië dood toe IS-militante drie motorbomme laat afgaan het.

IS het op 20 Maart 137 mense doodgemaak in vyf selfmoordbomaanvalle by moskees in Sanaa in Jemen.

Tydlyn van die konflik in Sirië

Maart 2011:

Troepe van pres. Basjar al-Assad van Sirië skiet op vreedsame betogers gedurende ’n betoging in die stad Deraa. Vier mense is dood.

Julie 2011:

Gefrustreerde betogers vorm die rebellegroep Free Syrian Army.

Augustus 2011:

’n Verswakte Al-Kaïda stuur ’n groep soldate na Sirië om nuwe rekrute te werf. Dit lei tot ’n nuwe tak van die organisasie – die al-Nusra Front.

Julie 2012:

Al-Assad verloor beheer oor die meeste van die land. Die situasie draai wanneer Iran die militante organisasie Hezbollah stuur om Al-Assad te ondersteun.

Ryk Arabiese state soos Saoedi-Arabië begin die rebelle befonds om Iran en sy bondgenote te verswak.

Maart 2013:

1 miljoen Siriërs, omtrent 5% van die bevolking, is in die burgeroorlog ontheem.

September 2013:

Die VSA tree toe tot die oorlog deur ’n CIA-program wat Siriese rebelle oplei en toerus met wapens.

Februarie 2014:

IS skeur weg van Al-Kaïda.

Junie 2014:

IS lok talle rekrute danksy die groep se radikales en marsjeer Irak binne.

September 2015:

Rusland tree tot die oorlog toe met lugaanvalle gemik op die anti-Al-Assad-rebelle.

Oktober 2015:

Die dodetal in Sirië steek na beraming die 250 000-kerf verby, met die helfte van die land se bevolking ontheem. 

8 van die bekendste terreuraanvalle en hul gevolge

1. 11 September 2001: 19 aanvallers wat bande met die Islamitiese terreurgroep Al-Kaïda het, kaap vier vliegtuie vir selfmoordaanvalle gemik op verskeie teikens. Twee tref die World Trade Center in New York, met die gevolg dat die twee torings ineenstort. Meer as 3 000 mense is dood in die aanvalle, waarvan meer as 400 polisie- en brandweerbeamptes was.

Gevolg: Pres. George W. Bush verklaar ’n oorlog op terreur en op 7 Oktober val Amerikaanse magte Afghanistan binne met die doel om die Taliban-regime te ontsetel. 

Op 2 Mei 2011 word Osama bin Laden, beplanner van die aanvalle, in Abbottabad, Pakistan doodgeskiet. 

2. 23 Oktober 2002: Motorbomme buite gewilde nagklubs in Bali, Indonesië, lei tot die dood van 202 mense (91 van hulle was Australiërs). Die Indonesiese militante netwerk Jemaah Islamiah, wat bande met Al-Kaïda het, word blameer. 

Gevolg: Drie aanvallers is in 2008 tereggestel en ander rolspelers is in klopjagte deur die polisie doodgeskiet. 

3. 11 Maart 2004: Vier bomme op passasierstreine ontplof tydens die oggendspitsverkeer in Madrid, Spanje. Die regering het aanvanklik beweer dat dit die werk van separaristegroep Eta was, maar het later erken dit was eerder Islamitiese ekstremiste.

Gevolg: Die opposisieparty onttroon die regerende party in die algemene verkiesing ’n paar dae later, as gevolg van woede onder die publiek oor die beweerde misleiding. 

4. 7 Julie 2005: Bomme ontplof op drie besige Londense moltreinstasies en op ’n bus tydens besigste oggendspitsverkeer. 56 mense is dood en 700 beseer in hierdie Al-Kaïda-aanval. Dit word bestempel as die grootste aanval op Brittanje sedert die Tweede Wêreldoorlog. 

Gevolg: Drie verdagtes is in Maart 2007 aangekeer toe hulle ’n vlug na Pakistan wou haal. Vlae het die volgende dag halfstok gehang in verskeie Statebondslande. 

5. 15 April 2013: Twee bomme ontplof naby die wenstreep by die Boston-marathon (die wêreld se oudste jaarlikste marathon) in die VSA. Drie mense is dood en 260 beseer, met talle wat ledemate verloor.

Gevolg: ’n Ondersoek met meer as 1 000 sekuriteitspersoneellede is van stapel gestuur. Later is Tamerlan Tsarnaev en Dzhokhar Tsarnaev geïdentifiseer as die skuldiges nadat hulle ’n motor probeer kaap het. Tamerlan is dood ná ’n skietgeveg met polisie en Dzhokhar is in Junie 2015 die doodstraf opgelê. 

6. 21 September 2013: Agt mans met aanvalsgewere teiken die luukse Westgate-winkelsentrum in Nairobi, Kenia. Hulle skiet 61 mense dood en beseer nog talle. Moslems is die geleentheid gegee om te vlug. 

Gevolg: Na 80 ure is die situasie eers onder beheer gebring. Winkeleienaars het teruggekom en gevind hul winkels is intussen geplunder. 

7. 14 April 2014: 200 Nigeriese skoolmeisies word ontvoer deur die terreurgroep Boko Haram. Na aanleiding van die Nigeriese weermag se onvermoë om hulle op te spoor, het Boko Haram se leier Aboebakar Shekau gesê hulle is intussen as slawe verkoop. 

Gevolg: Shekau se woorde het wêreldwyd empatie en woede ontlok. Die hutswoord #BringBackOurGirls het vir ’n geruime tyd sosiale media oorheers. Meer as ’n jaar later is daar steeds geen teken van die meisies nie. 

8. 7 Julie 2015: Twee broers, gewapen met aanvalsgewere, storm die kantore van die Franse satiriese nuusblad Charlie Hebdo binne. Hulle vermoor 11 mense en beseer ’n verdere 11. Buite skiet hulle ook ’n polisiebeampte dood. 

Gevolg: Die hutswoord #JeSuisCharlie (ek is Charlie) versprei soos ’n veldbrand op sosiale media om empatie met die slagoffers aan te dui. Vier dae later marsjeer miljoene mense, insluitend 40 wêreldleiers, deur Parys. 
Bronne: The Guardian, History.com, BBC, Wall Street Journal, NPR, Wikipedia.

Saamgestel deur Gys Visser



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier