Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Isis-groep in Mosambiek vermoor nege burgerlikes

Druk is aan die toeneem op die internasionale gemeenskap om toe te tree tot die konflik in Mosambiek nadat Islamitiese rebelle die afgelope week ten minste nege burgerlikes in twee afsonderlike aanvalle in die noorde van die land vermoor het.

Hele dorpe staan leeg met besighede en woonhuise, party afgebrand en ander in puin. Foto: Skermgreep

Cabo Delgado, ’n provinsie in die verre noordooste van Mosambiek, teen die grens met Tanzanië, word sedert 2017 deur ekstremistiese Islamitiese terreurgroepe geteister. Aanvalle waarin die inwoners van dorpies geterroriseer, gemartel en onthoof word, het die afgelope jaar skerp toegeneem.

Die rebelleteenwoordigheid onder die vaandel van terreurgroepe met Isis-bande hou ’n ernstige bedreiging vir die ryk gasvelde aan die kus van Cabo Delgado in. Die ontwikkeling van dié velde vir kommersiële ontginning – waarin die Franse oliemaatskappy Total ’n meerderheidsaandeel het – het in Junie verlede jaar begin.

cabo ligado

Die toename in die konflik plaas hernude druk op die lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en Westerse lande met ’n kommersiële belang in die gasvelde om by die konflik betrokke te raak, is die afgelope week aan Rapport gesê. Dit kom veral nadat die Russiese Wagner-groep, ’n veiligheidsfirma met nou bande met pres. Wladimir Poetin, vroeër vanjaar stert tussen die bene uit die gebied moes padgee.

Die Dyck Action Group, wat aan die Zimbabwiese oudsoldaat Lionel Dyck behoort, het intussen ’n kontrak van die Mosambiekse regering bekom om te help om orde in die gebied te herstel. Dyck se intelligensievermoë in dié oorwegend Moslem-provinsie is beperk en daarsonder is dit moeilik om doeltreffend te wees, sê Willie Viljoen, direkteur van Africa Intelligence Solutions.

Volgens die Kanadese private veiligheidsfirma GardaWorld is nege mense Woensdag in aanvalle in Mocímboa da Praia (’n kusdorp sowat 100 km suid van die Tanzaniese grens) en Macomia (sowat 100 km verder suid) deur rebelle doodgemaak.

“Mocímboa was vyf weke gelede nog ’n gewone dorp. Nou is dit ’n spookdorp. Die inwoners wat nie dood is nie, het gevlug,” het ’n inwoner van Montepuez, ’n dorpie sowat 300 km suidwes van Mocímboa, vandeesweek aan Rapport gesê. Mocímboa lê minder as 200 km noord van Pemba, die provinsie se hoofstad – dus beheer die insurgente nou byna die hele provinsie.

Hele dorpe staan leeg met besighede en woonhuise, party afgebrand en ander in puin. Foto: Skermgreep

Volgens betroubare bronne word die konflik vererger deur ongekoördineerde optrede deur Mosambiek se veiligheidsmagte.

“Die polisie praat nie met die weermag nie en almal wil mekaar aan die keel gryp. Ek is ook oortuig dat die rebelle oor SAM-lugafweermissiele beskik – waarskynlik die rede waarom die Russe onttrek het, want minstens een van hul helikopters is neergeskiet,” het een brongesê.

Rapport se bron in Montepuez sê hulle weet nie meer wie om te vertrou nie. “Die regering se soldate, die insurgente en die huursoldate van private veiligheidskontrakteurs – almal van hulle maak ons dood.

“Daar is dorpe waar jy nie in die aand op straat loop nie; ander waar jy nie in die dag op straat loop nie; en nog ander waar niemand eens meer kan bly nie. ’n Iesegrimmige soldaat kan jou einde beteken.”

’n Man word deur regeringsoldate gemartel.
Nog ’n vegter gebruik ’n kapmes om ’n lyk mee te vermink.
’n ASJ-vegter met die onthoofde kop van ’n man.

Rapport het die afgelope week verskeie video’s en foto’s van die terreur in die gebied onder oë gehad. In een video hou ’n man ’n onthoofde kop aan sy rasta­hare omhoog. Agter hom is nog een besig om met ’n kapmes dié lyk se een been te verwyder. In ’n ander toneel kap ’n man aan ’n lyk wat in ’n kruiwa lê.

Dié mans is na bewering lede van die Al Soennah wa Jama’ah-ekstremistegroep (ASJ), wat volgens bronne die afgelope jaar deur Isis gesteun word.

Jasmine Opperman, ’n analis by die Armed Conflict Location and Events Data-projek, sê die konflik is ingewikkelder as wat mense dink. “Om die insurgensies bloot as ’n ekstremistiese Islamitiese kwessie af te maak is foutief.”

Sy sê armoede en korrupsie was die vonk in die kruitvat.

“Die verwagtinge wat geskep is toe aardgas in 2010 ontdek is en die gebrek aan ’n finansiële impak op die omliggende gemeenskappe was die begin van die streek se moeilikheid.”

Barbara Lopi, die SAOG se hoof van kommunikasie, het die afgelope week gesê die groep is “besig om Mosambiek te steun”. “Wat dit behels, kan ons nie in die media bespreek nie. Dit is ’n sensitiewe veiligheidskwessie.”

Lunga Ngqengelele, woordvoerder van die departement van internasionale samewerking, sê die situasie word “op ’n intelligensievlak” benader. Enige fisieke ingryping sal volgens hom van die SAOG moet kom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.