Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Isis waarsku SA: Bly weg uit Mosambiek

Die Islamitiese Staat (Isis) het Suid-Afrika gewaarsku om nie betrokke te raak by die stryd teen militante insypelaars in die noorde van Mosambiek nie.

Al-Shbaab-vegters op parade. Foto: AP

Isis sê in sy nuusbrief, al-Naba, Suid-Afrika het genoeg van sy eie probleme om aan aandag te gee.

As Suid-Afrika hom in die gevegte in die provinsie Cabo Delgado in Mosambiek wil begewe, kan dit hom in ’n finansiële, veiligheids- en militêre penarie laat beland.

Dit kan selfs daartoe lei dat Isis vir hom ’n front binne Suid-Afrika op die been bring, lui die hoofartikel in al-Naba.

Prof. Theo Neethling, politieke wetenskaplike en militêre kenner aan die Universiteit van die Vrystaat, sê Suid-Afrika moet dié dreigemente baie ernstig opneem.

Hewige gevegte kom die laaste ruk in die gas- en olieryke Cabo Delgado voor, waar militante insypelaars sedert 2017 toenemend hul stempel begin afdruk.

Dit gaan gepaard met geweld, ontvoerings en die verwoesting van die provinsie se infrastruktuur.

Meer as 1 000 mense is al in die geweldpleging dood en sowat 100 000 ontwortel.

Die Mosambiekse weermag maak nie hond haaraf teen die militantes nie en ’n Russiese maatskappy, die Wagner-groep wat deur pres. Wladimir Poetin gestuur is om die Mosambiekse regering te help, is druipstert daar weg.

Die jongste ruk behaal die Dyck Advisory Group, ’n Suid-Afrikaanse sekerheidsgroep wat gelei word deur ’n voormalige kolonel van die eertydse Rhodesiese weermag, egter groot sukses teen die militantes. Voormalige Suid-Afrikaanse soldate is deel van kol. Lionel Dyck se groep.

Neethling sê die ekstremistiese Islamitiese groep Ahlu Sunnah Wal Jamaah is in Mosambiek ook bekend as Al Shabaab – al het hy geen verbintenis met dié gelyknamige Somaliese beweging nie.

Omdat die Mosambiekse weermag sukkel in sy stryd teen die ekstremiste, is die moontlikheid van ’n streekkonflik nie uitgesluit nie. “As dit sou gebeur, sal dit Suid-Afrika ook insuig,” meen Neethling.

“Sasol het groot beleggings in die gasbedryf daar gemaak, en soos vir die ander petroleumreuse se beleggings daar, is daar nou groot risiko’s en onsekerheid sover dit die toekoms betref.

“Die gasontginning kan armoedeverligting in Mosambiek bring en sou die projekte skipbreuk ly, sal dit sleg wees vir ekonomiese ontwikkeling in Mosambiek.

“Dit sal nie in Suid-Afrika se belang wees nie omdat hy reeds Zimbabwe aan sy noordelike grens het waar dit baie sleg gaan,” sê hy.

Die regering van pres. Filipe Nyusi het hom onlangs tot die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), waarin Suid-Afrika ’n sleutelrol speel, gewend.

Suid-Afrika hou die gebeure in Mosambiek fyn dop.

Al-Naba skryf “kruisvaarder-oliemaatskappye” het miljarde dollar in Cabo Delgado belê. Amerikaanse, Britse, Franse, Spaanse en Suid-Afrikaanse maatskappye het belange hier.

Dit sal nie in Suid-Afrika se belang wees nie omdat hy reeds Zimbabwe aan sy noordelike grens het waar dit baie sleg gaan.

Die nuusbrief sê 50 jaar nadat Portugal hom aan Mosambiek onttrek het, het hy steeds ’n groot invloed in Cabo Delgado.

Die land word nou regeer deur ’n “tirannieke bende van die ateïste van kommunisme”.

Russiese en Chinese maatskappye hoop ook om ’n vastrapplek hier te kry, meen al-Naba.

Volgens die nuusbrief het die “ongelowige Mosambiekse regering” besluit om hulp van buurlande en “verafgeleë kruisvaarder-lande” in te roep.

“Voordat dié lande in Europa en die Amerikas besluit om hul magte na die noorde van Mosambiek te stuur om dié gebied (soos die eindelose oorlog in Wes-Afrika) die nuwe teater van die oorlog teen die Islamitiese Staat te maak, probeer hulle om die Suid-Afrikaanse regering en sy weermag so ver te kry om die leiding te neem.”

Dit is vanweë Suid-Afrika se ligging en sy sterk bande met Mosambiek. Al-Naba voer aan dit sal ’n groot fout vir enige weermag wees om in ’n lang en uitgerekte oorlog in Mosambiek betrokke te raak.

Hy meen die “kruisvaarder-lande” is bang dat indien hulle hier inmeng, meer Moslems in Mosambiek hulle by “die soldate van die kalifaat” sal aansluit.

Meer oor:  Isis  |  Sa  |  Mosambiek  |  Terreur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.