Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Israel: Gevegte woed voort ondanks pogings om geweld te ontlont

Israel en Palestynse ekstremiste het Dinsdag weer lugaanvalle hervat ná ’n kort skietstilstand oornag waartydens die Verenigde Nasies (VN) ’n klein brandstofkonvooi na die enklave gestuur het.

Israelse leiers het Dinsdag gesê hulle sal voortgaan met ’n offensief om die vermoë van die gewapende faksies van Hamas en die Islamitiese Djihad te vernietig, te midde van oproepe deur die Verenigde State van Amerika (VSA) en ander lande om die konflik te beëindig.

Twee Thaise werkers is dood en sewe mense is gewond tydens ’n lugaanval op ’n Israelse plaas digby die Gasa-grens, het die polisie gesê. Hamas en die Islamitiese Djihad het verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar. Missiele is ook gelanseer na die stede Ashdod en Berseba, verder noord.

Roubeklaers bid Sondag langs die lyke van Palestyne ná Israelse lugaanvalle in die stad Gasa.Foto: AP

Inwoners van Gasa het gesê dat Israel met sy lugaanvalle volhou. Volgens ooggetuies het ’n Israelse tenk op ’n verf-fabriek in die suide van die Gasastrook gevuur waarna dit aan die brand geslaan het.

“Ons sal voortgaan so lank as wat dit nodig is om kalmte vir al die burgers van Israel teweeg te bring,” het die Israelse premier, Benjamin Netanyahu, in ’n video op Twitter gesê.

“Nog ’n ding: Ek is seker dat al ons vyande rondom ons die prys aanskou wat ons eis vir die aggressie teen ons, en ek is seker dat hulle die les sal absorbeer,” het Netanyahu in die video gesê met ’n Israelse oorlogsvliegtuig in die agtergrond.

Hamas het agt dae gelede missiele op Israel begin afvuur as vergelding vir wat die groep as die skending van regte van Palestyne in Jerusalem bestempel. Die konflik het vinnig uitgekring tot die ergste ooit tussen die militante groep en Israel.

Mediese beamptes in Gasa sê 215 Palestyne is dood, waaronder 61 kinders en 36 vroue, en meer as 1 400 is gewond. Volgens die Israelse owerhede is 12 mense in gevegte dood, waaronder twee kinders.

Byna 450 geboue in die Gasastrook is verwoes of erg beskadig, waaronder ses hospitale en nege primêre sorgsentrums, het die VN se humanitêre agentskap gesê. Sowat 47 000 van die 52 000 ontheemdes het na VN-skole gevlug.

Volgens die Israelse weermag is ongeveer 130 Hamas-vegters en nog 30 van die Islamitiese Djihad in aanvalle dood.

Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het op ’n besoek aan Ysland gesê die VSA het verdere inligting van Israel ontvang oor die vernietiging van ’n gebou wat die plaaslike kantore van die nuusorganisasies Associated Press en Al-Jazeera in Gasa gehuisves het.

Blinken het egter geen besonderhede gegee oor die inligting wat hy van intelligensiebronne oor die aanval Saterdag ontvang het nie.

Bemiddelaars van Egipte en die VN het Dinsdag weer pogings aangewend om die geweld te ontlont. Die Algemene Vergadering van die VN sal Donderdag die situasie bespreek.

Duitsland het ook ’n oproep gedoen vir ’n skietstilstand en meer hulp aangebied om Palestyne te help voor die begin van noodgesprekke met die Europese Unie. – Reuters


Meer oor:  Gasa  |  Amerika  |  Israel  |  Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.