Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Israel: Grootste konflik sedert 2014

Grys rook het Woensdag ná lugaanvalle uit wooneenhede in Gasa geborrel en waarskuwingsirenes het onophoudelik geloei te midde van ontploffings in Tel Aviv, Israel se grootste metropolitaanse gebied.

Volgens die Associated Press het die dodetal in Gasa Woensdag tot 53 Palestyne gestyg, waaronder 14 kinders en drie vroue. Minstens 320 is gewond, waaronder 86 kinders en 39 vroue. Sewe mense is aan die Israelse kant in lugaanvalle dood, waaronder, vir die eerste keer, ’n Israelse soldaat.

Die ander sterftes het burgerlikes ingesluit. Drie vroue en twee kinders, waarvan een ’n sesjarige, is tydens ’n lugaanval op ’n woonstelgebou in die stad Sderot dood. Tientalle is ook in Israel gewond.

Benjamin Netanyahu, Israelse premier, het belowe dat hy sy land se offensief sal uitbrei. Hamas het in reaksie gevra vir ’n volskaalse opstand. Die laaste opstand was in 2000 en het meer as vyf jaar geduur.

Die jongste uitbarsting van geweld het ’n maand gelede in Jerusalem begin toe Palestynse families teen uitsetting met die Israelse polisie gebots het. Die onrus is Maandag op ’n spits gedryf met gevegte by die Al-Aksa-moskee.

Hamas, wat beweer dat hy Jerusalem verdedig, het Maandag begin om mortiere na die stad af te vuur, wat die geweld verder laat uitkring het.

’n Gebou in Gasastad word op Woensdag 12 Mei in ’n Israelse lugaanval opgeblaas.Foto: AP

Volgens die Israelse weermag het die militante groep sedertdien meer as 1 050 mortiere uit Gasa gelanseer.

Israel het 350 teikens met sy lugaanvalle getref waartydens minstens 30 ekstremiste dood is.

Die BBC berig dat die Verenigde Nasies (VN) sy vrees uitgespreek het oor ’n volskaalse oorlog tussen Palestynse ekstremiste in die Gasastrook en die Israelse weermag.

António Guterres, sekretaris-generaal van die VN, het gesê dat hy bekommerd is oor die voortslepende geweld.

Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake, het tydens ’n telefoonoproep met Netanyahu die aanvalle van Hamas veroordeel, maar bygevoeg dat Israel ’n verpligting teenoor sy burgerlikes het om nog sterftes te verhoed.

Blinken het gesê dat hy Hady Amr, adjunk-assistent-minister van buitelandse sake, na die streek gestuur het om albei kante te ontmoet.

Onluste het intussen in Israelse gebiede met gemengde Joodse en Arabiese gemeenskappe toegeneem. Dit het tot honderde arrestasies gelei. ’n Noodtoestand is in Lod naby Tel Aviv afgekondig. Die Israelse weermag het Woensdag gesê sy lugaanvalle op Gasa is die grootste sedert die konflik in 2014.

Defence Web berig dat ’n Palestynse bron in ’n onderhoud met Reuters gesê het daar is nog nie tot dusver enige sukses behaal met pogings vir ’n skietstilstand deur Egipte, Katar en die VN nie.

Tor Wennesland, vredesgesant van die VN in die Midde-Ooste, het gesê dat daar met alle kante onderhandel word om kalmte in die streek te bewerkstellig.


Meer oor:  Palestina  |  Konflik  |  Palestyne  |  Israel  |  Gasa-Konflik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.