Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Israel se nuwe leier belowe eenheid

Die nasionalis Naftali Bennett het Benjamin Netanyahu, wat 12 jaar lank Israel se premier was, met een stem uit die kussings gelig. Dié verkiesingsuitslag van 60 teen 59 is iets wat baie min Israeli’s sou kon voorspel.

Nadat die uitslag Sondagaand in die parlement bekend gemaak is, het Netanyahu (71) weer in die stoel van die premier gaan sit, en hy moes na die opposisiebanke gehelp word. Hy sal steeds die opposisie as hoof van die Lukid-party lei.

Netanyahu het Bennett se hand geskud en hom voorspoed toegewens.

Terwyl Bennett egter Sondag sy voorganger vir sy leiding tydens sy ampstermyn bedank het, het Netanyahu se ondersteuners “leuenaar” en “skaam jou” geskree.

Bennett was tussen 2006 en 2008 Netanyahu se personeelhoof, en hy was ook sy minister van verdediging.

Die koalisie-ooreenkoms bepaal dat Bennett vir die volgende twee jaar die premier sal wees, waarna Yair Lapid van die Yesh Atid-party by hom sal oorneem.

Lapid se party het tweede in die afgelope verkiesing geëindig.

Hoewel Netanyahu se Lukid-party gewen het, kon hy nie daarin slaag om ’n regering te vorm nie. Die ander partye het saamgespan om van Netanyahu ontslae te raak.

Die BBC berig dat eenheid vir Bennett ’n prioriteit sal wees nadat vier agtereenvolgende verkiesings binne twee jaar op ’n politieke dooiepunt uitgeloop het.

Hy sal moet fyntrap, aangesien die koalisie uit ’n breë spektrum van partye bestaan wat nou uit een mond moet praat terwyl Netanyahu sal regstaan om kritiek te lewer, berig BBC.

Die hervorming van die onderwys- en gesondheidstelsels is plaaslike prioriteite, en die Palestina-kwessie bly ’n warm patat.

Dié koalisie van partye, wat verregses tot linkses en onafhanklike Arabiese partye insluit, sal op ekonomiese en maatskaplike kwessies fokus, in plaas van groot diplomatieke vraagstukke.

Die Palestyne is egter nie opgewonde oor Bennett se oorwinning nie en meen hy sal dieselfde politiek as Netanyahu beoefen.

’n Woordvoerder van die Palestynse president, Mahmoed Abbas, het gesê wat nou gebeur, is ’n interne kwessie. “Ons posisie was nog altyd duidelik. Ons wil ’n onafhanklike Palestynse staat op die 1967-grens met Israel en met Jerusalem as die hoofstad hê.” Reuters




MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.