Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Israel, VAE smee bande met historiese ooreenkoms

Israel en die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) het Donderdag aangekondig hulle gaan diplomatieke bande normaliseer en ’n breë nuwe verhouding smee.

Dit is ’n skuif wat die politieke orde in die Midde-Ooste met brandende kwessies soos Palestina en Iran op sy kop kan keer.

Volgens die ooreenkoms, waarby pres. Donald Trump van Amerika ook betrokke was, stem Israel in om die beoogde besetting van gebiede aan die Wesoewer op te skort.

Die ooreenkoms vestig ook hernude opposisie teen Iran, ’n land wat die VAE, Israel en die Verenigde State van Amerika (VSA) beskou as die grootste bedreiging in die Midde-Ooste.

Pres. Donald Trump meen “die ooreenkoms is ’n stap in die rigting van die bou van ’n meer vreedsame, veilige en welvarende Midde-Ooste”.Foto: Reuters

Israel het in 1979 vredesooreenkomste met Egipte en in 1994 met Jordanië onderteken. Maar die VAE, saam met ander Midde-Oosterse lande, wou Israel nie erken nie en die twee lande het tot dusver geen amptelike diplomatieke of ekonomiese betrekkinge gehad nie. Die VAE is die eerste land in die Arabiese Golf wat so ’n ooreenkoms met die Joodse staat bereik.

Die ooreenkoms was die resultaat van lang gesprekke tussen Israel, die VAE en die VSA, het amptenare van die Withuis gesê.

In ’n gesamentlike verklaring het Trump, die Israeliese premier, Benjamin Netanyahu, en kroonprins Sheikh Mohammed Bin Zayed van Abu Dhabi ingestem tot die “volledige normalisering van die betrekkinge” tussen Israel en die VAE.

“Die historiese diplomatieke deurbraak sal vrede in die Midde-Ooste bevorder en is ’n bewys van die dapper diplomasie en visie van die drie leiers en die moed van die VAE en Israel om ’n nuwe weg te baan wat die groot potensiaal in die streek ontsluit,” lui die verklaring.

In ’n afsonderlike verklaring het die kroonprins benadruk dat die ooreenkoms die verdere besetting van Palestynse gebiede deur Israel keer.

Trump het gesê soortgelyke transaksies word met ander lande in die streek bespreek.

Die VAE het gesê hy sal ’n sterk ondersteuner van die Palestynse volk bly en dat die ooreenkoms die lewensvatbaarheid van ’n tweestaat-oplossing vir die jare lange konflik tussen Israel en Palestyne behou.

Daar was nie onmiddellik ’n reaksie van die Palestyne wat hoop om ’n onafhanklike staat van hul eie in die besette Wesoewer, Gasa en Oos-Jerusalem tot stand te bring nie.

Volgens Netanyahu is die ooreenkoms ’n “historiese dag” vir sy land. Die ooreenkoms kan Netanyahu ook ’n persoonlike hupstoot gee nadat hy onder hewige kritiek van sy landgenote deurgeloop het weens sy hantering van die Covid-19-pandemie.

Daar was ook geen onmiddellike reaksie van die Iranse regering nie, maar die nuusagentskap Tasnim, verbonde aan die magtige revolusionêre wagte, het die ooreenkoms as “skandelik” bestempel.

Iran en Israel is tradisioneel aartsvyande. Israel is veral besorg oor die vermeende pogings van Iran om kernwapens te ontwikkel.

Afgevaardiges van Israel en die VAE beoog om in die komende weke te vergader om ooreenkomste te onderteken rakende beleggings, toerisme, regstreekse vlugte, veiligheid, telekommunikasie en ander kwessies.

Die twee lande, wat in Junie ooreengekom het om saam te werk in die stryd teen die koronavirus, sal ook binnekort ambassadeurs en ambassades uitruil.

’n Seremonie met afvaardigings van Israel en die VAE om die ooreenkoms te onderteken sal binnekort by die Withuis gehou word.

“Almal het gesê dit sal onmoontlik wees,” het Trump gesê. “Ná 49 jaar sal Israel en die VAE hul diplomatieke betrekkinge ten volle normaliseer.”

Trump het bygevoeg: “Die ooreenkoms is ’n belangrike stap in die rigting van die bou van ’n vreedsamer, veilige en welvarende Midde-Ooste. Noudat die ys gebreek is, verwag ek dat meer Arabiese en Moslemlande die leiding van die VAE sal volg.” – Reuters

Reuters: https://www.reuters.com/article/us-israel-emirates-trump/israel-uae-agree-to-normalise-relations-with-help-from-trump-idUSKCN25926W

Meer oor:  Israel  |  Uae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.