MacKenzie Bezos, eksvrou van Jeff Bezos, het net maande ná haar egskeiding van die rykste man ter wêreld belowe sy sal minstens die helfte van haar fortuin aan liefdadigheid gee.
Die splinternuwe miljardêr het die Giving Pledge onderteken wat die wêreld se rykste mense aanmoedig om ’n groot deel van hul rykdom aan liefdadigheid weg te gee terwyl hulle nog lewe, of in hul testament, berig CNN.
Dié belofte is deur Warren Buffett en Bill en Melinda Gates in 2010 begin en het tot dusver ondersteuning van 204 individue en families gekry.
MacKenzie Bezos se fortuin word op $36,6 miljard geraam. Sy het in die brief waarin sy die skenking aangekondig het, geskryf sy het ’n “sekere bedrag geld om weg te gee”, berig die BBC.
“My benadering tot liefdadigheid sal goed bedink wees. Ek sal tyd en aandag en sorg daaraan gee,” het sy geskryf.
Haar eksman het nie die Giving Pledge onderteken nie. Hy het wel verlede jaar $2 miljard in ’n liefdadigheidsfonds gesit wat haweloses help en ’n nuwe netwerk van skole begin. Sy optrede is toe uit sekere oorde gekritiseer omdat hy daarvan beskuldig word dat hy sy personeellede te min betaal.
NPR berig Bezos het ná sy eksvrou se belofte getwiet dat hy baie trots op haar is oor haar besluit. Volgens hom gaan sy suksesvol wees met haar betrokkenheid by liefdadigheid.
MacKenzie Bezos, ’n skrywer, het by die bekendmaking van haar skenking ’n aanhaling uit die boek The Writing Life van Annie Dillard geplaas: “Moenie opgaar wat goed lyk om later in die boek of in ’n ander boek te gebruik nie. Die impuls om iets wat goed is vir ’n beter plek te bêre, is die teken om dit nou te gebruik. Enigiets wat jy nie vryelik en in oormaat gee nie, gaan vir jou verlore. Jy gaan jou kluis oopmaak en as aantref.”