Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Brexit-ooreenkoms ‘skiet dalk te kort’

Boris Johnson, premier van Brittanje, sê die Brexit-handelsooreenkoms met die Europese Unie (EU) het dalk te kort geskiet ten opsigte van die finansiële sektor se toegang tot Europese markte.

Johnson het in ’n onderhoud met die Sunday Telegraph toegegee dat die ooreenkoms “dalk nie so ver gaan as wat ons sou wou hê nie”, maar volgehou dat hy ’n ooreenkoms gesluit het wat sy kritici gesê het onmoontlik sou wees.

LP’s en lede van die Britse hoërhuis sal op 30 Desember die ooreenkoms nagaan en daaroor stem, voordat die huidige Brexit-oorgangstydperk op 1 Januarie verstryk, het The Guardian Sondag berig.

Na verwagting sal die Arbeidersparty daarvoor stem, maar die sterk pro-Brexit deel van Johnson se party kan moontlike teenstand bied nadat hulle die besonderhede van die ooreenkoms gesien het.

’n Britse man swaai die landsvlag tydens die vierings van “Brexit-dag” in Januarie vanjaar in Londen. Foto: Reuters

Die dienstebedryf, wat die grootste deel van Brittanje se uitvoer aan die EU uitmaak, kan aan regulatoriese of ander nie-tariefbelemmerings blootgestel word, terwyl Johnson sê dat toegang vir prokureurs en advokate onderhandel is en ’n “goeie ooreenkoms” vir digitale dienste gesluit is.

Die ooreenkoms maak ook voorsiening dat tariewe ingestel kan word indien Brittanje van die bestaande standaarde vir sektore afwyk.

Johnson het egter gesê Brexit-gesinde Konserwatiewe LP’s moet dit nie as te beperkend beskou nie en dat dit onwaarskynlik is dat Brittanje sy eie tariewe sou instel.

Die Britse regering het Saterdag die teks van die handelsooreenkoms met die EU gepubliseer, net vyf dae voordat die land een van die grootste handelsblokke ter wêreld verlaat, het Reuters berig.

Dit sluit in ’n ooreenkoms van 1 246 bladsye, sowel as ooreenkomste oor kernkrag, die uitruil van geklassifiseerde inligting en ’n reeks gesamentlike verklarings.

Brittanje het die EU amptelik op 31 Januarie vanjaar verlaat, 47 jaar nadat hy aangesluit het en drie en ’n half jaar sedert die referendum oor Brexit.

Boris Johnson, premier van Brittanje. Foto: Getty Images
Ursula von der Leyen, president van die Europese Kommissie. Foto: Reuters

’n Oorgangstydperk het toe begin met reëls oor handel en reise wat gevries is tot die einde van 2020 terwyl amptenare en diplomate onderhandel het om ’n handelsooreenkoms te sluit wat op 1 Januarie in werking tree.

Die EU-amptenare en diplomate het dié gesprekke as ’n “uitputtende oefening in blufspel en waagmoed” beskryf, het Reuters vandeesweek berig.

In Oktober het Brittanje aangekondig dat hy die onderhandelings heeltemal gaan opskort, maar dit het ’n week daarna hervat nadat die EU erkenning gegee het dat albei kante toegewings moet maak.

Johnson het op 9 Desember aandete met Ursula von der Leyen, president van Europese Kommissie, gehad, maar kon nie struikelblokke oor visserye en die mededingingsbeleid uit die weg ruim nie.

Ná nog twee weke van onderhandelings, wat tot die aande en oor naweke voortgeduur het, is ’n ooreenkoms teen Oukersdag bekend gemaak.

Wantroue tussen Brittanje en die EU kan egter toekomstige betrekkings bemoeilik, met ’n senior EU-diplomaat in Brussel wat daarop gewys het dat “vertroue nie oornag sal kom nie”.

Intussen is daar nog onafgehandelde sake wat strek van handel in dienste tot samewerking vir strafregtelike sake en veiligheid.

- Saamgestel deur Malherbe Nienaber

Meer oor:  Boris Johnson  |  Handelsooreenkoms  |  Brexit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.