Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Johnson verstewig sy greep op Britse regering

Boris Johnson, premier van Brittanje, het sy minister van finansies, wat tot dusver oral aan sy sy was, in werklikheid gedwing om te bedank omdat hy nie na Johnson se pype wou dans nie.

Sajid Javid, gewese Britse minister van finansies, by sy huis nadat hy as minister bedank het. Hy het nie kans gesien om in die pos te bly onder die voorwaardes wat Boris Johnson, premier, daaraan gekoppel het nie. Foto: Reuters

Dit is ’n teken dat Johnson sy beheer oor die regering met ’n kabinetskommeling verstewig om sy visie vir ’n Brittanje ná Brexit te vergestalt.

Johnson het Sajid Javid vinnig as minister van finansies vervang met sy adjunk, Rishi Sunak. Sunak is ’n getroue ondersteuner van die premier en word gereeld ingespan om die regering se beleid aan die media te verkoop.

Johnson het Donderdag ’n kabinetskommeling aangekondig en het weer die pos as minister van finansies aan Javid gebied, onder voorwaarde dat Javid sy span adviseurs in die pad steek.

Javid het gesê “geen minister met selfrespek sal dit doen nie” en sy bedanking ingehandig. Sommige kommentators meen dit is presies wat Johnson se span wou hê. Dit versterk die indruk dat die premier geen teenstand duld nie en meer beheer oor die tesourie wil hê.

Johnson se woordvoerder het gesê die premier het ’n nuwe ekonomiese span aangestel om hom en die minister van finansies van raad te bedien sodat hulle ten nouste kan saamwerk.

Die eenheid sal in Downing Street Nr. 10 en 11 gehuisves wees.

Johnson se afdanking van Julian Smith, die minister van Noord-Ierland wat ’n maand gelede nog gehelp het om ’n regering in hierdie Britse provinsie saam te stel, is deur politici noord en suid van die grens gekritiseer.

Rishi Sunak stap uit Downing Street Nr. 10 nadat hy deur Boris Johnson, premier van Brittanje, aangestel is as die nuwe minister van finansies. Foto: AP

Ander ministers wat hul werk verloor het, is Andrea Leadsom, minister van sakeondernemings, en Theresa Villiers, minister van die omgewing.

Alok Sharma, ’n ultralojale oudminister van internasionale ontwikkeling, is aangestel as die nuwe minister vir sakeondernemings en ook as hoof van die COP26-klimaatberaad in November in Skotland wat deur staatshoofde bygewoon sal word.

Sunak is vervang deur die voormalige Brexit-minister, Stephen Barclay.

Anne-Marie Trevelyan is bevorder tot minister van internasionale ontwikkeling. Reuters


Meer oor:  Boris Johnson  |  Brittanje
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.