Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Jong aktivis voltooi reis oor oseaan

Die tienerjarige klimaatsaktivis Greta Thunberg het Woensdag onder toejuiging in ’n seiljag sonder ’n koolstofvoetspoor in New York aangekom.

Greta Thunberg kort ná haar aankoms in New York. Sy het gesê sy sien daarna uit om skoon te kom. Foto: Getty Images

Thunberg sal die Verenigde Nasies se beraad oor klimaatsverandering bywoon.

Die 16-jarige Sweedse skoolmeisie, wat op 14 Augustus uit New Plymouth in Engeland gevaar het, het in die silwer seiljag die Malitzia II verby die Vryheidstandbeeld gevaar en in die seiljaghawe in Manhattan anker gegooi.

’n Skaam Thunberg het gesê al die aandag is oorweldigend. “Die grond skud nog vir my,” het sy aan verslaggewers gesê wat haar en haar bemanning aan wal ingewag het.

“Dit is kranksinnig vir ’n 16-jarige om die Atlantiese Oseaan oor te steek om ’n standpunt oor klimaatsverandering in te neem. Dit is natuurlik nie iets wat ek wil hê almal moet doen nie.”

Thunberg, wat die eerste keer aandag getrek het toe sy Vrydae nie skool toe gegaan het nie om teen die politieke traagheid oor klimaatsverandering te betoog, het gesê sy beplan om Vrydag buite die Verenigde Nasies te betoog.

Thunberg het haar trans-Atlantiese vaart in ’n seiljag van 18,3 m voltooi. Die seiljag is met sonpanele en onderwaterturbines toegerus om elektrisiteit aan boord op te wek.

Daar is ook geen toilette of storte aan boord nie.

Almal aan boord moes ook koue blikkieskos tydens die vaart eet.

Die Sweedse tieneraktivis Greta Thunberg Woensdag met haar aankoms in New York aan boord van die omgewingsvriendelike seiljag Malizia II. Foto: Reuters

Thunberg het op vrae oor haar boodskap aan pres. Donald Trump van Amerika gesê sy stel nie belang om met die president koppe te stamp nie. Trump is bekend daarvoor dat hy skepties is oor klimaatsverandering.

“My boodskap aan hom is dat hy net na die wetenskap moet luister, wat hy duidelik nie doen nie. Niemand kon hom tot dusver oor die dringendheid van klimaatsverandering oortuig nie, hoekom sal ek dít kan doen?,” het Thunberg gesê. “So ek gaan net daarop fokus om mense bewus van klimaatsverandering te maak.”

Thunberg beplan ook om die COP 25-konferensie oor klimaatsverandering in Desember in Santiago, Chile, by te woon, sonder om met ’n vliegtuig te reis. – Reuters

Meer oor:  Greta Thunberg  |  New York  |  Aktivis  |  Klimaatsverandering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.