William Barr, Amerika se minister van justisie, sê geen bewyse van wydverspreide bedrog in die Amerikaanse presidentsverkiesing is gevind nie.
Dít terwyl pres. Donald Trump se prokureurs steeds nuwe regsgedinge aanhangig maak om sy nederlaag teen Joe Biden te beveg.
Barr, wat gereeld deur die Demokrate van politieke partydigheid beskuldig word, het aan Associated Press gesê sy departement kon geen bewyse vind van bedrog wat die uitslag van die verkiesing sal verander nie.
“Ons het tot op hede nog nie enige bedrog op so ’n skaal gesien wat ’n ander verkiesingsuitslag tot gevolg sou hê nie,” het hy gesê.
Trump se veldtogspan meen egter dat die departement nie deeglik genoeg gesoek nie.
Biden het Trump met 306 stemme in die Amerikaanse kieskollege verslaan, terwyl die president net 232 stemme kon kry. Biden het boonop 6,2 miljoen stemme meer as Trump in die verkiesing gekry.
Trump se bewerings van bedrog word deurentyd deur beamptes in die Amerikaanse deelstate, sowel as federale beamptes verwerp terwyl sy veldtogspan met hul regsgedinge ook geen hond haaraf maak nie.
Die span het Dinsdag die hoërhof in die Amerikaanse deelstaat Wisconsin gevra om 221 000 stembriewe van die verkiesing op 3 November uit te gooi. Biden het in dié deelstaat met sowat 20 000 stemme gewen. – Reuters