Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Jy kan nou openlik gay wees in Botswana

’n Volbank regters van die hooggeregshof van Botswana het Dinsdag in ’n eenparige uitspraak seksuele omgang met lede van dieselfde geslag gedekriminaliseer.

Luidens ’n verklaring deur die organisasie Lesbiese, Gay en Biseksuele mense van Botswana (Legabibo)

en die Suider-Afrikaanse Litigasiesentrum (Salc) het regters B. Tafa, M. Leburu en J. Dube beslis dat sekere artikels van die strafproseswet die grondwetlike regte van gay, lesbiese, biseksuele en transgender mense skend en hulle van hul waardigheid, vryheid, privaatheid en gelykheid ontneem.

Die hooggeregshof het artikels 164(a), 164(c) en 165 van die betrokke wet ongrondwetlik verklaar.

Voorheen kon mense wat hierdie artikels van die wet oortree het, tot sewe jaar gevangenisstraf opgelê word. Die regters het bevind dat die “misdaad van ernstige onsedelikheid” ongrondwetlik is omdat dit van toepassing op ’n “private daad” is.

Legabibo is as ’n vriend van hof toegelaat. Die organisasie het deskundige getuienis aan die hof voorgelê om te toon dat die voortgesette wetstoepassing teen seksuele omgang tussen mense van dieselfde geslag hulle van maatskaplike dienste ontneem en aan stigmatisering en diskriminasie blootstel. Dit skend hul grondwetlike regte.

Anna Mmolai-Chalmers, Legabibo se uitvoerende hoof, sê dit het ’n lang tyd geneem.

“Dit is ’n aardskuddende beslissing hoewel dit nie al die vorige optredes teen ons regverdig nie. Ons waardigheid as mense kan herstel word. Ons kan ’n meer verdraagsame gemeenskap bou, die werklike werk begin nou eers.

“Die hof het bevind dat persoonlike onafhanklikheid wat seksuele voorkeure betref, gerespekteer moet word. Die kriminalisering van liefde verdun verdraagsaamheid en deernis.”

Tashwill Esterhuizen van die Salc het die regters vir die uitspraak geprys.

“LGBTIQ-mense het ook die reg op beskerming onder die regstelsel. Die howe is ’n voorbeeld vir ander howe in die streek, en ons hoop hulle sal die uitspraak navolg.”

Meer oor:  Gayregte  |  Homoseksualiteit  |  Botswana
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.