Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kabuga 26 jaar ná volksmoord in Rwanda in Frankryk gevang

Felicien Kabuga (84), wat al jare lank gesoek word in verband met die volksmoord in Rwanda en daarvan beskuldig word dat hy die geldmag was agter die militia-groep wat sowat 800 000 mense vermoor het, is Saterdag naby Parys, Frankryk, in hegtenis geneem.

Hy was sowat 26 jaar voortvlugtend. Hy is sy land se mees gesoekte verdagte en ’n beloning van $5 miljoen is uitgeloof vir enigiemand met inligting wat tot sy inhegtenisneming sou lei.

Die Franse ministerie van justisie het in ’n verklaring bevestig dat hy in hegtenis geneem is en sê Kabuga het onder ’n vals identiteit in ’n woonstel in Asnieres-Sur-Seine gewoon.

Hy is omstreeks 05:30 deur gewapende polisiemagte in hegtenis geneem.

Die woonstelgebou in Asnieres-sur-Seine naby Parys waar Felicien Kabuga in hegtenis geneem is. Foto: Reuters

Kabuga is in 1997 aangekla van volksmoord, medepligtigheid aan volksmoord en aanhitsing om volksmoord te pleeg – alles klagte wat verband gehou het met die volksmoord in 1994 toe die twee grootste etniese groepe, die Hutus en die Tutsis, in ’n bittere burgeroorlog gewikkel was.

Kabuga, ’n Hutu-sakeman, is daarvan beskuldig dat hy die volksmoord op sowat 800 000 Tutsis en gematigde Hutus oor ’n tydperk van 100 dae gefinansier het.

“Kabuga het sedert 1994 straks in Duitsland, België, Kenia of Switserland gewoon,” lui die verklaring.

Sy inhegtenisneming baan nou die weg vir ’n verskyning in die appèlhof in Parys en later ook in die internasionale hof in Den Haag.

Amerika het in 2002 kennisgewings in verskeie koerante in Nairobi, Kenia, geplaas om te help met die soektog na Felicien Kabuga. Foto: Reuters

Nog twee Rwandese wat verdink word van volksmoord, Augustine Bizimana en Protais Mpiranya, word nog deur internasionale owerhede gesoek.

“Die inhegtenisneming van Kabuga is ’n duidelike boodskap dat diegene wat hulself aan volksmoord skuldig maak, selfs 26 jaar ná die misdade sal moet rekenskap gee,” het Serge Brammertz, hoofaanklaer van die VN se internasionale meganisme vir strafregtelike tribunale, net ná die inhegtenisneming gesê.

Hy sê samewerking tussen wetstoepassingsagentskappe in Frankryk, Amerika, Rwanda, België, Brittanje, Duitsland, Nederland en ander lande het tot dié deurbraak gelei.

Kabuga was destyds in beheer van die meeste van die land se tee- en koffie-plantasies asook fabrieke. Hy was ook ’n mede-eienaar van die berugte Radio Television Milles Collines in Rwanda wie se radiostasie etniese haat aangeblaas en vir Hutus gesê het waar hulle die Tutsis kan kry. Hulle was ook gereed om raad te gee oor maniere om hulle dood te maak. – Reuters

Meer oor:  Frankryk  |  Rwanda  |  Volksmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.