Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kamala Harris ’n simbool van hoop vir miljoene Amerikaners

Kamala Harris (56) het pas die eerste vroulike visepresident van Amerika geword. Sy het ook die eerste politikus van Asiese afkoms geword wat die Withuis gaan betree. Sy het Indiese en Jamaikaanse bloed in haar en is met ’n Joodse Amerikaner getroud. Charles Smith kyk na wie sy is en waarom die wêreld van haar kennis gaan neem.

“Aangewese visepresident van die Verenigde State van Amerika. Senator, vrou, Momala, tannie. Veg vir die mense. Sy/haar.”

Só is Kamala Harris se Twitter-profiel aangepas oomblikke nadat sy as die eerste vrou in die Withuis verkies is. Vir miljoene Amerikaners was dit ’n groot oomblik omdat sy in haar die hoop vir vroue, swart Amerikaners, immigrante en ma’s verteenwoordig.

In kort: Die groepe wat nog altyd eenkant gestoot is.

In ’n jaar wat Amerika onder Donald Trump begin brand het met die Black Lives Matter-veldtog nadat George Floyd deur wit polisiebeamptes doodgeskiet is, is haar verkiesing betekenisvol.

“Dié verkiesing gaan oor soveel meer as oor my of Joe Biden. Dit gaan oor die siel van Amerika en die bereidwilligheid om daarvoor te veg. Ons het baie werk wat voorlê. Kom ons begin,” lui haar heel eerste boodskap nadat sy verkies is.

Dít is Kamala Harris met wie Biden raakgevat het én oor wie hy uit Trump-geledere moes deurloop: Sy is ’n gesoute aanklaer wat met skurke van alle soorte en van die gehardste misdadigers en bendelede in Kalifornië afgereken het.

Sy is gewoond om gebrandmerk te word as links, ’n rassis, yskoud en “gevaarlik”, die een wat eintlik die septer in die Withuis gaan swaai met ’n stokou “Sleepy Joe”, soos Trump snedig na hom verwys, wat op die stoep in die sonnetjie gaan sit terwyl sy ’n sosialistiese agenda het. Een ding is seker – Kamala Harris is nie net nadergetrek as ’n daad van politieke korrektheid nie.

Dié verkiesing gaan oor soveel meer as oor my of Joe Biden. Dit gaan oor die siel van Amerika en die bereidwilligheid om daarvoor te veg.

Harris, wat in 2017 die junior senator vir Kalifornië geword het, gaan op 21 Januarie 2021 sen. Joe Biden se visepresident word nadat hulle pres. Donald Trump en visepres. Mike Pence oortuigend in die geskiedkundige presidentsverkiesing verslaan het.

Die bejaarde wit man en die jonger swart vrou het met ’n verstommende vertoning die twee regse wit mans by die stembus geklop.

Sy was net die tweede swart, vroulike senator en sal net die tweede mens van kleur word wat in bykans 250 jaar die Withuis gaan betree nadat pres. Barack Obama in 2008 die eerste swart president geword het.

Joe Biden het vir twee termyne onder Obama as die visepresident gedien.

Kamala Harris en Joe Biden het geskiedenis gemaak deur as die eerste vrou en oudste president tot die Withuis verkies te word.Foto: Instagram

Harris wat van Oakland, Kalifornië, kom, het regsgrade aan die Howard-universiteit en die Universiteit van Kalifornië behaal en is in 2010 as die prokureur-generaal van Kalifornië gekies.

“Toe ek die eerste keer by die hof instap, het ek die woorde gesê wat die rigsnoer vir my lewe sou word: ‘Kamala Harris vir die mense’,” het sy met haar aanvaardingstoespraak op die Demokratiese Party se kongres vroeër vanjaar gesê.

Net soos Obama, wie se pa van Kenia gekom het, is haar verhaal ook dié van baie immigrante in Amerika en verteenwoordig sy die reuse-kieserskorps van alle rasse, gebore Amerikaners én immigrante, wat in hul miljoene vir haar en Biden gestem het.

Haar ma, Shyamala Gopalan, ’n bioloog wat in navorsing oor borskanker gespesialiseer het, het in 1958 as 19-jarige student uit Indië in Amerika aangekom. Haar pa, Donald J. Harris, is in Jamaika gebore en is ’n emeritusprofessor in ekonomie aan die Universiteit van Stanford in Kalifornië.

Sy is getroud met Douglas Emhoff, ’n prokureur van Joodse afkoms. Sy is ’n stiefma vir Emhoff se twee kinders, Cole en Ella, wat haar Momala noem. Sy is versot op haar gesin en kinders.

Kamala Harris, aangewese visepresident van Amerika, saam met haar gesin. Haar man is Douglas Emhoff, ’n prokureur. Haar stiefkinders Cole en Ella noem haar Momala. Foto: Instagram

Sy is ook ’n groot vegter vir vroueregte. “Elke vrou verdien veilige, bekostigbare toegang tot omvattende gesondheidsorg, insluitend aborsie,” het sy getwiet. Sy het onlangs ’n konsepwetsontwerp ingedien met die titel “Lig die middelklas” wat belastingverligting vir die middelklas bied.

“Dinge werk op die oomblik nie uit vir werkende mense nie,” het sy gesê.

Haar wetsontwerp sal een uit elke twee werkende mense en twee uit elke drie kinders bevoordeel.

Sy beywer haar vir veilige skole en wil aanvalsgewere en magasyne wat groot hoeveelhede patrone kan huisves – wat meestal gebruik word in massaskietery – verbied. Sy het ’n veldtog begin om ongelisensieerde vuurwapens in Kalifornië op te spoor.

Kamala Harris, nuwe visepresident van Amerika, se ma is van Indië en pa van Jamaikaanse afkoms Sy verteenwoordig die hoop van miljoene vroue en immigrante in Amerika wat nog nooit regtig erken is in die land nie. Foto: Instagram

Harris het nie geluister na mense wat skepties was toe sy haar in die politiek begewe het nie.

“Ek het nie geluister nie. En die mense het ook nie daarna geluister nie. En ons het gewen,” het sy gesê.

Sy het al baie gesê sy bewonder haar ma, ’n klein vrou wat haar en haar suster, Maya, alleen grootgemaak het. Haar ma was ook baie trots op Kamala toe sy as Biden se visepresident aangewys is.

“Kamala, jy kan die eerste (swart vrou) wees wat baie dinge bereik, maar maak seker jy is nie die laaste een nie,” het sy gesê.

Bronne: CNN, USA Today, Wikipedia, BBC

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.