Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kans is skraal dat Kim siek is, sê Suid-Korea

Amptenare van Suid-Korea benadruk dat hulle geen buitengewone bedrywighede in Noord-Korea bespeur nie en waarsku teen berigte dat Kim Jong-oen, Noord-Koreaanse diktator, siek is of weens die koronavirus geïsoleer­ word.

Kim Jeon-tsjoel, Suid-Korea se minister van unifikasie (met Noord-Korea) wat verantwoordelik is vir skakeling met sy noordelike buurman, het Sondag op ’n geslote forum gesê sy regering het intelligensievermoë om met vertroue te kan sê daar is geen aanduiding dat enigiets buitengewoons aan die gang is nie.

Kim Jong-oen, Noord-Koreaanse diktator, besoek ’n gevegsvliegtuiggroep in dié land se weermag. Dié foto is op 12 April geneem. Foto: REUTERS

Gerugte en bespiegeling oor die Noord-Koreaanse leier se gesondheid het begin nadat hy op 15 April in gebreke gebly het om op een van die belangrikste vakansiedae in die land in die openbaar op te tree en hy is sedertdien nog nie weer in die openbaar gesien nie.

Die nuusmedia in Suid-Korea het verlede week berig dat Kim dalk kardiovaskulêre chirurgie ondergaan het of dat hy in isolasie is om hom teen besmetting met die koronavirus te beskerm.

Die minister van unifikasie betwyfel die berig dat Kim dalk geopereer is en voer aan die hospitaal wat in die berig genoem word, het nie die vermoë om sulke operasies uit te voer nie.

Tog het Joen Sang-hyoen, voorsitter van die buitelandse en unifikasiekomitee in Suid-Korea se nasionale vergadering, Maandag aan ’n saamtrek van kundiges gesê Kim se afwesigheid in die openbaar dui daarop “dat hy nie soos gewoonlik werk nie”.

“Daar was nog geen berig wat wys dat hy sedert 11 April beleidsbesluite geneem het nie, wat ons laat dink hy is óf siek óf hy word geïsoleer uit kommer oor die koronavirus,” sê Joen.

Noord-Korea sê hy het geen bevestigde gevalle van die nuwe­ koronavirus nie, maar sommige internasionale kundiges het hul twyfel daaroor uitgespreek.

Pres. Moon Jae-in van Suid-Korea het Maandag onderneem om samewerking te versterk om sy noordelike buurman te help om die verspreiding van Covid-19 te keer, maar het geen melding gemaak van Kim se gesondheid of waar hy hom bevind nie.

Hy sê Covid-19 kan ’n nuwe geleentheid skep vir inter-Ko­reaanse samewerking.

Ook Moon Tsjoen-in, topraadgewer van pres. Moon oor buitelandse beleid, het aan Amerikaanse nuuspublikasies gesê Kim is lewend en gesond. “Hy bly sedert 13 April in die Wonsan-gebied. Geen verdagte bewegings is tot dusver opgemerk nie,” sê die raadgewer.

Kim Byoeng-kee, voormalige intelligensiebeampte en nou lid van Suid-Korea se parlementêre intelligensiekomitee, maan mense teen bespiegeling en sê daar is min kans dat Kim siek is. Hy meen Kim gaan binnekort ’n “verrassende terugkeer” maak.

Satellietbeelde wat verlede week geneem is, wys ’n spesiale trein by Wonsan wat moontlik Kim s’n is, wat geloofwaardigheid gee aan die stelling dat hy in Wonsan tuis bly, berig­ Washington North, ’n projek­ om Noord-Korea dop te hou.

Hoewel die groep meen dis waarskynlik Kim se persoonlike trein, kon dit nog nie onafhanklik bevestig word nie. Ook nie dat hy in Wonsan is nie. – Reuters

Meer oor:  Kim Jong-Oen  |  Noord-Korea
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.