Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kapt. Tom nou ’n erekolonel
Die voormalige Britse weermagoffisier, kapt, Tom Moore, wat as die eerste erekolonel van die Army Foundation College in Harrogate aangestel is, hou sy Yorkshire Regiment-medalje vas.Foto: Reuters

Twee militêre verbyvlugte, ’n rangbevordering en ’n boodskap van die premier – dit is hoe die Britse oorlogsveteraan kapt. Tom Moore sy 100ste verjaarsdag gevier het.

Moore het ongeveer R685 miljoen (meer as £30 miljoen) ingesamel vir die land se nasionale gesondheidsdiens (NHS) deur 100 keer met behulp van ’n loopraam om sy tuin te stap.

Sy poging het wêreldwyd harte gesteel en meer as 125 000 verjaardagkaartjies, asook geskenke, is al na sy huis in Bedfordshire gestuur.

Ter viering van sy verjaardag Donderdag is Moore aangestel as die eerste erekolonel van die Army Foundation College, geleë naby die stad waar hy grootgeword het. Dié bevordering is deur koningin Elizabeth goedgekeur, sê die ministerie van verdediging.

’n Tweede Wêreldoorlog-medalje is weer aan hom oorhandig nadat hy syne vroeër verloor het.

Moore, wat sê hy is steeds “kapt. Tom”, sê hy voel geëerd deur sy bevordering en al die mooi boodskappe wat hy ontvang het.

“As mense verkies om my kolonel te noem, baie dankie,” het hy met ’n laggie aan BBC TV gesê. Die veteraan, wat in die Tweede Wêreldoorlog in Suidoos-Asië gestasioneer was, het gewaai vir die vliegtuig uit dié oorlog toe dit oor sy huis vlieg.

’n Verjaardagboodskap word op die grootskerm in Piccadilly Circus vir kapt. Tom Moore vertoon. Foto: Reuters

Daar was later ’n tweede verbyvlug met moderne Royal Air Force-helikopters.

Sedert Maandag gebruik die Britse Royal Mail ’n spesiale posstempel vir alle gestempelde pos met ’n boodskap van gelukwensing aan Moore.

‘Ek het nooit, ooit in my lewe, so iets verwag nie, dit is ongelooflik. Ek moet sê baie dankie aan almal, waar jy ook al is,” het Moore gesê.

Sy staptog vroeër vandeesmaand het politici en koninklikes beïndruk. Boris Johnson, die premier, wat Maandag weer begin werk het nadat hy van Covid-19 herstel het, het ’n spesiale boodskap vir Moore opgeneem.

“Ek weet ek praat namens die hele land as ek sê ons wens jou ’n baie gelukkige 100ste verjaardag toe. Jou heldhaftige pogings het die gemoed van die hele land gelig,” het Johnson gesê.

Hy het gesê Moore is ’n “ligpunt in ons lewe”.

Ook die koningin het aan hom ’n kaartjie gestuur.

“Ek was baie geïnteresseerd om te hoor van jou onlangse fondsinsamelingspogings in hierdie moeilike tyd,” sê die 93-jarige monarg, wat tradisioneel aan mense skryf wat hul eeufees vier. “Ek stuur my gelukwense en beste wense vir jou op so ’n spesiale geleentheid.” – Reuters

https://www.reuters.com/article/us-health-coronavirus-britain-captaintom/flypast-and-promotion-for-uk-fund-raising-hero-colonel-tom-as-he-turns-100-idUSKBN22B3FF

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.