Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kaunda se rol in SA nooit vergeet

Huldeblyke stroom in ná die dood van oudpres. Kenneth Kaunda (97) van Zambië. Hy is Donderdagmiddag in die Maina Soko-hospitaal in Lusaka aan longontsteking dood.

kenneth kaunda
Oudpres. Kenneth Kaunda van Zambië woon in April 2004 die inhuldiging van pres. Thabo Mbeki in Pretoria by. Foto: Reuters

Hoewel Zambië se ekonomie, wat grootliks op koper gegrond is, swak gevaar het onder sy leierskap, sal Kaunda waarskynlik altyd onthou word vir sy rol as vegter teen kolonialisme wat veral ook in Suid-Afrika betrokke was by die stryd teen apartheid. Hy het ook ’n groot stryd gestry teen MIV/vigs in Afrika.

Kneo Mokgopa, kommunikasiehoof van die Nelson Mandela-stigting, sê dit is nie toeval dat Kaunda op oudpres. Nelson Mandela se begrafnis gepraat het nie.

“Mandela het in 1962 die eerste keer met hom vergader op sy reis deur Afrika om steun vir ’n ontluikende gewapende stryd in Suid-Afrika te kry.

“Mandela het hom daarna kort ná sy vrylating in 1990 weer in Lusaka gesien aan die begin van nog ’n toer deur Afrika.

“Die twee leiers het toe ’n vriendskap ontwikkel wat gehou het tot Mandela se dood in 2013.”

Daardie besoek in 1990 aan Lusaka was tekenend van die rol wat Zambië onder Kaunda se leierskap in Suid-Afrika se bevrydingstryd gespeel het, sê Mokgopa.

kenneth kaunda
Oudpres. Kenneth Kaunda praat op 15 Desember 2013 op die begrafnis van oudpres. Nelson Mandela in Qunu. Foto: Reuters

Die ANC se hoofkantoor was vir baie jare in Lusaka.

Mandela het destyds gesê hulle sal nooit Kaunda se bydraes in die stryd teen kolonialisme en apartheid vergeet nie.

“Ook nie die lesse wat sy lewe inhou oor hoe demokrasie gemeet moet word en hoe dit verdiep kan word nie.”

Barend la Grange gesels met oudpres. Kenneth Kaunda in sy huis buite Lusaka. Foto: Verskaf
kenneth kaunda
Koningin Elizabeth groet oudpres. Kenneth Kaunda tydens 'n onmoeting in April 2009 in Londen. Foto: Reuters

In Suid-Afrika het Barend la Grange, bedryfshoof van South Africa Day, ’n organisasie wat hom beywer vir die bevordering van nasiebou, gesê dit was vir hom ’n besonderse geleentheid en voorreg om vier jaar gelede met Kaunda te kon praat in sy huis buite Lusaka.

“Die besoek het ’n kuier van sewe uur lank geword.”

Hy sê hulle het gesels oor Kaunda se ontmoeting met Martin Luther King in 1960 en hoe dit hom geïnspireer het, verhoudings oor die jare met Suid-Afrika, sy onderhandelings met John Vorster en PW Botha en sy respek vir koningin Elizabeth.

“Ook sy gesprekke met Amerikaanse presidente soos Lyndon B. Johnson, Gerald Ford, Jimmy Carter en sy ‘geskil’ met Ronald Reagan . . .

“En sy dans met Margaret Thatcher.”

“En so het ek die persoon wat oor ’n baie lang tydperk ’n groot rol in Afrika gespeel het, ’n bietjie beter leer ken.”

Meer oor:  Kenneth Kaunda  |  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.