Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kelder gekry op erf waar polisie na Maddie McCann soek

Duitse ondersoekers het volgens berigte op ’n versteekte kelder afgekom by die huis waar die verdagte in die Madeleine (Maddie) McCann-saak vroeër gewoon het.

Op die derde dag van die ondersoek op ’n erf aan die buitewyke van Hanover in Duitsland het die polisie grondwerktuie en snuffelhonde gebruik in hul poging om bewyse te kry, luidens The Independent.

Die Duitse media het Woensdagaand berig dat daar ’n ou kelder ontdek is wat eens deel van ’n klein gebou was wat einde 2007 op die erf afgebreek is.

Die ondersoek op die erf het Maandagoggend in die vroeë oggendure begin. Groot plate boumateriaal is ook verwyder uit die oorblyfsels van die fondamente van die huis, waarskynlik om by die kelder uit te kom.

Die polisie het nog nie kommentaar gelewer oor die ontdekking van ’n kelder nie en aanklaers het nie gesê waarvoor hulle soek nie. Daar word vermoed dat die polisie glo Christian Brückner, die hoofverdagte, het moontlik van Portugal na Duitsland gery en die driejarige McCann in 2007 met hom saamgeneem.

Woensdagaand is die skerms wat op die terrein opgerig is, afgehaal en ’n polisiebeampte het gesê die soektog is beëindig. Dit is nog nie bekend of iets van belang gevind is nie.

’n Oudbuurman het aan die plaaslike media gesê dat Brückner in 2007 op die erf in ’n kampeerwa gewoon het. Hy het nie lank ná Maddie se verdwyning nie daar aangekom en het weer binne ’n jaar vertrek.

Hy sê die kelder is al “jare lank” op die erf en is deur ’n vorige huurder bygevoeg. Dit is nie opgevul toe die huis wat daaraan geheg was, einde 2007 gesloop is nie, sê hy. Dit is nie duidelik wie die huis gesloop het nie.

Aanklaers het verlede maand aangekondig dat hulle fooninligting het wat Brückner met Maddie se verdwyning op 3 Mei 2007 verbind. Sy naam word sedert 2013 as ’n moontlike verdagte genoem, maar ondersoekers sê hulle het nog nie voldoende bewyse om hom aan te kla nie.

Daar word algemeen beweer dat die Britse meisie dood is, maar die staatsaanklaers het tot dusver geweier om meer hieroor te sê.

Brückner dien tans tronkstraf vir dwelmhandel in die stad Kiel uit. Hy het twee vorige veroordelings vir verkragting, diefstal en bedrog. – Saamgestel uit The Guardian, The Independent, Metro en dpa

Snuffelhonde is gebruik in die polisie se ondersoek op ’n erf in Hanover, Duitsland. Foto: AP

Meer oor:  Duitsland  |  Mensehandel  |  Kelder  |  Maddie Mccann  |  Ontvoering  |  Soektog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.