Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kielie die kuur vir ’n pop met koronavirus

Kinders in Spanje en Portugal vind dalk op Kersdag geskenke onder die Kersboom wat die afgelope jaar se Covid-19-pandemie weergee.

Speelgoedwinkels bly beswaar­lik voor met poppe wat maskers dra, stelletjies waarmee kinders hul eie beskermende drag kan maak en ander speelgoed wat by die heersende tye pas.

Miljoene kinders wêreldwyd is tydens inperkings tot hul huise beperk en as hulle wel buite is, moet hulle maskers dra.

Speelgoedvervaardigers het dus besluit om hul speelgoed ’n ekstra kinkel te gee namate Kersfees nader kom.

“Ek dink dit is ’n manier om aan te pas by die werklikheid,” sê Reyes Lopez terwyl sy tussen die rakke van ’n speelgoedwinkel in Madrid stap op soek na geskenke vir haar kinders.

“Poppe moet die samelewing uitbeeld,” sê sy.

In die winkel pryk party van die Spaanse speelgoedvervaardiger Famosa se gewilde Nancy-poppe met maskers. ’n Ander stel poppe het weer “virus-toetsstelle” wat kan bepaal of die pop “siek” is. Indien wel, kan die kind die pop net ’n bietjie kielie om dit te genees.

“Om ’n masker vir hul poppe aan te trek, help kinders om te besef hulle moet self een dra,” meen Cristina Hernandez, nog ’n inkopieganger.

’n Nancy-pop, een van die gewildste soorte speelgoed in Spanje, dra nou ’n masker om haar teen Covid-19 te beskerm. Die pop word in die hoofkantoor van die Spaanse speelgoedvervaar­diger Famosa in Madrid vertoon. Die foto is op 30 November geneem. Foto: REUTERS

Adela Haro, die winkel se ­bestuurder, sê die Covid-19-verwante speelgoed verkoop goed en Marie-Eve Rougeot, Famosa se uitvoerende hoof, het aan Reuters gesê die gemaskerde poppe was ’n treffer sedert hulle in September bekendgestel is.

“Kinders sal minder beangs wees as hulle nou moet dokter toe gaan of getoets word,” meen Rougeot oor die speelgoed.

Die maatskappy Science4You in Portugal sê sy virus-verwante speelgoed verkoop soos soetkoek – veral aanlyn, aangesien mense eerder groot winkelsentrums vermy uit vrees vir die aansteeklike virus.

Een van dié vervaardiger se topverkopers is ’n stelletjie van 15 aktiwiteite waarmee kinders onder meer hul eie maskers, gesigskerms en stervormige seep kan maak. Die maatskappy het reeds 8 000 van dié stel­letjies verkoop, teen ¤20 (R364) elk, sedert dit in Junie op die winkelrakke gekom het.

“As ons dit pret maak, sal kinders baie meer oor die virus leer, asook hoe om dit te vermy,” sê Miguel Pina, Science4You se uitvoerende hoof.

Die innovasies is ook ’n manier waarop speelgoedmakers aanpas by die pandemie se ekonomiese impak. “Die speelgoedmark beleef ’n moeilike tyd. Sedert Maart hou mense nie meer kinderpartytjies nie,” sê Pina. “Ons het na ’n manier gesoek om op die golf van hierdie yslike tsoenami te ry.” – Reuters

Meer oor:  Spanje  |  Portugal  |  Pop  |  Pandemie  |  Geskenke  |  Kersdag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.