Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kiesers kap May en Corbyn
Theresa May, premier van Brittanje, beantwoord Vrydag vrae by die Universiteit van York. Foto: AP

Theresa May, Britse premier, en Jeremy Corbyn, leier van die Arbeidersparty, het kwaai onder woedende kiesers deurgeloop in die laaste “televisiedebat” voor vandeesweek se algemene verkiesing.

May weier om direk met Corbyn te debatteer en die twee leiers het gevolglik ná mekaar gesels op die BBC se Question Time. Daar was geen kans om rustig op te warm nie en die eerste vraesteller het May daarvan beskuldig dat sy nie haar beloftes nakom nie.

Dit was die strafste teenstand wat May van ’n gehoor ondervind het in ’n verkiesingsveldtog waarin haar openbare verskynings streng beheer is.

Sy het ook nie op haar laat wag nie en in een stadium teruggekap met ietwat onparlementêre taal: “Ek het die b***s gehad om ’n verkiesing uit te roep.”

May se veldtog het in die laaste ruk nie so vlot verloop nie en Corbyn se Arbeidersparty is volgens meningspeilings besig om die agterstand tussen hulle en die Konserwatiewe Party te vernou.

May was bekommerd genoeg om die minister van verdediging, Michael Fallon, toe te laat in ’n onderhoud te sê daar is n nie sprake dat hoër inkomstegroepe meer belastings sal betaal nie; ’n belofte wat nie in die verkiesingsmanifes bevat is nie.

“Ons wil nie mense straf wat vooruit gaan nie; inteendeel, ons wil hê mense moet ’n groter deel van hul inkomste behou,” het Fallon aan die Telegraph gesê. “Die enigste manier waarop hulle kan verseker belasting word nie verhoog nie, is om vir die Konserwatiewe Party te stem.”

May en Corbyn se swakpunte is tydens die televisieprogram uitgebuit.

Jeremy Corbyn se Arbeidersparty is besig om die agterstand tussen hom en die Konserwatiewe Party te vernou. Foto: AP

Corbyn se ondervraging het meer gemoedelik begin, maar hy was duidelik geïrriteerd toe hy verskeie keer gevra is of hy bereid sal wees om kernwapens te gebruik. “Ek dink ons het dit nou al talle kere bespreek,” het hy gekla.

Corbyn het met sy antwoord die vraag probeer ontduik. Hy wil nie graag in ’n situasie beland waar hy sal moet besluit om die spreekwoordelike te druk of nie, het hy gesê.

“Dit is die ideaal,” het die aanbieder David Dimbleby gesê. “Maar wat van die werklikheid?”

Corbyn wil ontslae raak van Brittanje se Trident-wapenstelsel. “Ek wil dit eerder hê en nie gebruik nie as wat ek dit glad nie het nie,” het ’n lid van die gehoor gesê.

“Wil jy daarop kommentaar lewer?” wou Dimbleby van Corbyn weet.

Hy het sy kop geskud.

Dié standpunt van Corbyn is deur lede van die gehoor gesteun. Een vrou wou weet waarom ander lede van die gehoor so graag miljoene mense wil doodmaak.

May het vroeër self ’n paar ongemaklike oomblikke beleef toe sy uitgevra is oor die finansiering van gesondheidsdienste.

’n Verpleër het gekla dat sy inkomste met 14% gedaal het. “Moet ons nie vertel dit is ’n salarisverhoging nie,” het hy gesê.

May was min gepla: “Daar is nie ’n magiese geldboom wat ons kan skud nie.”

Corbyn het nog ’n moeilike oomblik beleef toe hy uitgevra is oor sy verhouding met Ierse terroristegroepe in die verlede.

“Ek keur nie enige terrorisme van watter aard ook al goed nie, ook nie enige daad van terrorisme nie,” was sy antwoord.

’n Lid van die gehoor wou weet of hy die Ierse Republikeinse Leër sal verdoem wat ’n dekades lange veldtog van bom- en skietaanvalle volgehou het. “Hulle het ’n klomp mense doodgemaak, het hulle nie?” is hy gevra.

“Dit is verkeerd as enigiemand sterf,” het Corbyn geantwoord.

Dít is ’n televisiegreep wat die Konserwatiewes maar al te graag die volgende ses dae op internet-advertensies sal gebruik. – Bloomberg

Meer oor:  Bbc  |  Jeremy Corbyn  |  Theresa May  |  Brittanje  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.