Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kim Jong-nam: Viëtnamese vrou vrygelaat in moordsaak

’n Viëtnamese vrou wat langer as twee jaar in ’n Maleisiese tronk aangehou is weens die sluipmoord op die halfbroer van die Noord-Koreaanse leier Kim Jong-oen, is Vrydag vrygelaat.

Doan Thi Hoeong (30) is saam met ’n Indonesiese vrou daarvan aangekla dat sy Kim Jong-nam vergif het deur vloeibare VX, ’n verbode chemiese wapen, in Februarie 2017 in die Kuala Lumpur-lughawe aan sy gesig te smeer.

Doan Thi Hoeong in die hof in April. Foto: AP

Maleisiese aanklaers het die moordklag verlede maand laat vaar nadat sy skuld beken het op ’n alternatiewe aanklag dat sy leed veroorsaak het.

Hoeong sal later Vrydag na Viëtnam terugkeer, het haar prokureur, Hisiam Teh, aan Reuters gesê.

Hoeong het die regerings van Maleisië en Viëtnam in ’n handgeskrewe brief vir “al hul ondersteuning” bedank, sowel as mense wat betrokke was by haar verhoor en tronkstraf.

“Ek is baie gelukkig en bedank julle almal baie. Ek is lief vir julle almal,” het Hoeong geskryf in die brief wat haar prokureurs voor haar vlug op ’n mediakonferensie op die lughawe gewys het. Sy was nie self hier nie en Teh het gesê immigrasie-beamptes sou haar na die vliegtuig begelei.

Haar prokureurs en ambassade-personeel sal op dieselfde vlug na Hanoi wees.

“Die saak is nou heeltemal afgehandel, sover dit Doan aanbetref.”

Doan se mede-aangeklaagde, Siti Aisiah, is in Maart vrygelaat toe aanklaers ook moordklagte teen haar laat vaar het.

Suid-Koreaanse en Amerikaanse amptenare het gesê die Noord-Koreaanse regime het die opdrag gegee vir die sluipmoord op Kim Jong-nam, wat krities was oor sy familie se bewind.

Doan Thi Hoeong se prokureur, Hisiam Teh Poh Teik, wys die brief wat sy geskryf het. Foto: Reuters/Lai Seng Sin

Pjongjang ontken dit.

Die verdediging se regsverteenwoordigers het aangevoer die vroue was pionne in die sluipmoord wat Noord-Koreaanse agente gereël het. Die vroue het gedink hulle neem deel aan ’n werklikheidsprogram waarin mense poetse gebak word. Hulle sê hulle het nie besef hulle vergif Kim nie.

Vier Noord-Koreaanse mans is ook aangekla, maar hulle het Maleisië ure ná die moord verlaat en is steeds op vrye voet.

Maleisië is gekritiseer omdat hy die twee vroue weens moord aangekla het – wat in dié land met die doodstraf strafbaar is – terwyl sleutelpersone nog soek is.

Doan se pa, Doan Van Thanh sê hy en haar broer sal in Hanoi wees om haar tuis te verwelkom.

“Ek is nou so gelukkig, my hele dorpie is nou gelukkig,” het Doan sr. aan Reuters gesê.

“Ons sal Sondag ’n partytjie hou en enigeen is welkom om dit by te woon. Ons sal varke slag vir die partytjie. My dogter hou baie van diepgebraaide vis, so ons sal dit ook maak,” het hy gesê. Reuters


Meer oor:  Kim Jong-Nam  |  Kim Jong-Oen  |  Maleisië  |  Noord-Korea  |  Viëtnam  |  Sluipmoord  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.