Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wêreld
Kim vervang weermag se topleiers
Kim Jong-oen

Noord-Korea het in aanloop tot die spitsberaad met die VSA die topstruktuur van sy weermag geskommel.

Kim Jong-oen het die drie magtigste mense in die weermag deur jonger amptenare vervang.

Suid-Korea se Jonhap-nuusagentskap het Sondag oor die skommeling berig. Volgens waarnemers versterk Kim sy houvas op die Noord-Koreaanse weermag (KPA) en sodoende maak hy sy binnekring aanvaarbaarder vir ander lande waarmee hy sal wil onderhandel.

“As Kim werklik vrede met die VSA en Suid-Korea wil maak en ten minste van ’n deel van sy kernwapenprogram ontslae wil raak, sal hy die KPA se invloed in ’n kassie moet druk en daar moet hou,” het Ken Gause, direkteur van internasionale sake by die CNA, ’n onafhanklike waarnemersgroep, gister gesê.

Pres. Donald Trump van die VSA verwag van Kim om sy kernwapenprogram heeltemal af te takel in ruil vir die verslapping van sanksies en sommige Amerikaanse waarnemers meen daar is onmin in die Noord-Ko­reaanse weermag daaroor.

Die topamptenare wat vervang is, is die minister en die adjunkminister van verdediging, asook die generaal wat aan die hoof van die KPA se politburo staan.

Michael Madden, Noord-Ko­reaanse kenner aan die Johns Hopkins-Universiteit, sê die weermag speel wel ’n mindere rol in die land se kernbewapening.

Hy meen die skommeling is eerder ’n poging van Kim om hom met getrouer onderdane te omring omdat hy weet onderhandelinge met talle ander lande lê voor.

“Die kernwapens is ’n bysaak.”

Amptenare van die twee lande is in verbinding met mekaar en werk om die grondslag te lê vir moontlike ooreenkomste.

Volgens Madden het die drie nuwe amptenare almal ondervinding in skakeling op die hoogste vlak met ander lande.

“Hulle berei hierdie ouens voor, want daar gaan baie internasionale interaksie wees. Hulle weet wat van hulle verwag word en om nie dronk te word op partytjies nie. Hulle weet hoe om hulle te gedra.”

Volgens kenners beplan Kim ook om die massiewe weermag in die toekoms te benut vir die herontwikkeling van die land se infrastruktuur, wat die laaste paar dekades erg gestagneer het.

Hy en Kim Soe Gil, nuwe hoof van die weermag se politburo, het reeds saam op besigtigingstoere vertrek.

Intussen gaan die beplanning vir die beraad volgende week in Singapoer volstoom voort.

In die jongste stap in die wipplankryery oor die beraad het Trump Noord-Korea se voormalige intelligensiehoof Vrydag in die Withuis verwelkom. Dit was agt dae nadat hy hom aan die beraad onttrek het weens Kim se “openlike vyandigheid”.

Amptenare van die twee lande is in verbinding met mekaar en werk om die grondslag te lê vir moontlike ooreenkomste. Kang Kjoeng-hwa, Suid-Korea se minister van buitelandse sake, het gister weer met Mike Pompeo, sy Amerikaanse ampsgenoot , vergader.

– Reuters

Meer oor:  Kim Jong-Oen  |  Noord-Korea  |  Weermag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.